Die Suid-Afrikaanse privaat wildjagbedryf is een wat gekoester moet word. Dit is weer eens duidelik gemaak deur navorsing wat uitgevoer is deur die navorsingseenheid vir Toerismenavorsing in Ekonomie, die Omgewing en die Samelewing (TREES), wat deur prof Peet van der Merwe, Andrea Saayman en Elmarie Slabbert uitgevoer is. Die navorsing het getoon dat die bedryf miljarde rand in Suid-Afrika se ekonomie terugploeg.
Die doel van die navorsing was om die sosio-ekonomiese impak van die privaat wildbedryf in Suid-Afrika te bepaal, met opnames wat vanaf Junie 2022 tot Augustus 2022 uitgevoer is. Vraelyste is aanlyn versprei en het die reaksie van 1 685 plaaslike jagters en 415 internasionale jagters ontlok.
Wat die plaaslike jagters betref, was 97% van die respondente manlik, met ’n gemiddelde ouderdom van 47, en 82% van hulle was getroud. Hulle het gemiddeld aan 2,7 jagtogte per jaar deelgeneem en het 4,16 nagte by hulle voorkeurbestemming gebly. Hulle provinsiale voorkeurbestemmings was, in volgorde: Limpopo, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap.
Die internasionale jagters se profiel het getoon dat 89% manlik is, met ’n gemiddelde ouderdom van 57 jaar, 81% was getroud en hulle het ten minste drie keer in die afgelope tien jaar in Suid-Afrika gejag. Hulle voorkeurprovinsie was ook Limpopo, gevolg deur die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap.
Suid-Afrikaanse jagters het elkeen ’n totale jaarlikse besteding van R63 282 gehad. Hierdie syfer sluit verblyf, vervoer, kos, die verwerking van die vleis, jagpermitte, gelde en die wild wat gejag is in. Met ’n beraamde 200 000 plaaslike jagters kan daar afgelei word dat hulle ongeveer R12,65 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra het.
Wat internasionale jagters betref, vind nie al hulle uitgawes binne die grense van die land plaas nie. Daar is byvoorbeeld internasionale vlugte, verskepingskoste vir trofeë en die aankoop van items soos klere voordat hulle na Suid-Afrika kom. Deur egter hierdie syfers aan te pas en in ag te neem dat daar voor en ná die toer ander besteding plaasvind, is die bedrag per jagter per jagtoer wat in ons plaaslike geldkoffers ingaan, R450 000.
Plaaslike en internasionale jagters dra gesamentlik R15,456 miljard tot ons ekonomie by.
Dit is egter nie waar die voordele ophou nie.
Meer as 80% van die plaaslike jagters glo dat jagtoerisme meer inkomste vir die betrokke gemeenskappe genereer, dat jagtoerisme werksgeleenthede binne die bepaalde jaggebied vermeerder, dat jagtoerisme die ekonomie sowel as die lewenstandaard in die gebied verhoog, en dat dit help om kulturele tradisies vir toekomstige geslagte te bewaar.
Sedert die laaste omvattende opname deur TREES uitgevoer is, het die privaat wildbedryf ’n toename van R1,81 miljard getoon, hoewel die rand/dollar-wisselkoers en ’n toename in lewenskoste tot hierdie syfer bygedra het.
“Die privaat wildbedryf is nie net ’n noodsaaklike deel van die land se toerisme-aanbieding nie, maar ook ’n integrale deel van ons ekonomie. Die waarde daarvan kan nie onderskat word nie, en ons moet alles doen wat ons kan om dit te bewaar, te bevorder en uit te bou. As ’n instrument vir werkskepping en bewaring, moet ons die magdom geleenthede benut wat die bedryf het om te bied,” sê prof Peet van der Merwe, ’n kundige oor die natuur en ekotoerisme by TREES.
Nou-ja, dit is ’n kolskoot vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.