QS plaas die NWU onder die topagt universiteite in Suid-Afrika

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is besig om homself te vestig as ’n wêreldwye betrokke, innoverende universiteit wat verbind is tot uitnemendheid en relevansie in die samelewing.  Belangrike voorbeelde van hoe die strategiese prioriteite van die NWU ooreenstem met die strewe om wêreldwyd relevante en volhoubare oplossings te bied, is die stigting en voorgenome stigting van drie akademiese skole wat vir die toekoms baie kan beteken: die Desmond Tutu School of Medicine, die Skool vir Mynbou en Myningenieurswese, en die Skool vir Veeartsenykunde.

Hierdie en ander innoverende, kruissektorale inisiatiewe dien as voorbeeld van die universiteit se strategie – Neem die NWU vorentoe: 2024 en daarna – wat onder andere internasionalisering, vennootskappe en impak prioritiseer.  Hierdie fokus op strategiese prioriteite lewer positiewe resultate deur die NWU se deurlopend goeie prestasie op internasionale rangslyste, en vestig sy reputasie as ’n mededingende, impakvolle wêreldwye en plaaslike speler en gesogte vennoot in hoër onderwys.  

Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings plaas die NWU onder die topagt universiteite in Suid-Afrika en in die top-16 in Afrika. Die Londen-gebaseerde QS het hulle ranglys vir top wêreldwye universiteite vir 2026 op 19 Junie gepubliseer.

Die huidige ranglys omvat 1 501 universiteite in 105 liggings regoor die wêreld. Dit gebruik opnameresponse en harde data om die finale telling vir elke universiteit te bereken. QS is die enigste ranglys van sy soort om indiensneembaarheid en volhoubaarheid te beklemtoon.

Hierdie jaar se World University Rankings het ook ’n nuwe onverswaarde aanwyser genaamd die International Student Diversity Indicator bekendgestel. Hierdie bykomende metriek kyk na die verhouding tussen internasionale studente en al die studente en die diversiteit van nasionaliteite wat daardie studente verteenwoordig. In hierdie metriek val die NWU in die 801+-graderingskategorie.

Die jongste QS-ranglyste volg op hulle World University Rankings by Subject, wat in Maart hierdie jaar gepubliseer is.

Die Rankings by Subject plaas vier NWU-vakgroepe in die top-850 wêreldwyd. Hulle is landbou en bosbou (301- tot 350-kategorie), omgewingswetenskappe (501 tot 550), fisika (551 tot 600) en medisyne (701 tot 850).

Nog ’n onlangse ranglys, wat op 2 Junie vrystel is, is die Global 2000-lys deur die Center for World University Rankings (CWUR), wat die NWU in die top-4,1% van wêreldwye universiteite geplaas.

Neem die NWU vorentoe, 2024 en daarna

Die universiteit se nuwe strategie vir 2022 en daarna behels vier belangrike strategiese prioriteite om die NWU in sy voortgesette soeke na uitnemendheid te rig. Dit is resultaat-georiënteerde leierskap, sisteemdenke en aanpasbaarheid van beleid, gedeelde skepping van privaat en openbare waardes, en die bemagtiging van digitale en groen ekonomie.  
Volgens prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, bevestig die NWU se voortgesette goeie prestasie op die ranglyste die impak van die werk wat die NWU se akademici, navorsers en ander personeel doen, en dat die universiteit se strategiese fokus met wêreldwye tendense ooreenstem.

Vir meer inligting, besoek: https://www.topuniversities.com/universities/north-west-university, en vir meer inligting oor die NWU se prestasie op verskillende ranglyste, besoek https://www.nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Fri, 06/20/2025 - 12:02