Professor Charlene du Toit-Brits is besig om die paradigma te verskuif

’n Intreelesing word as ’n betekenisvolle mylpaal in die lewe en loopbaan van ’n akademikus beskou. Dit is ’n geleentheid vir nuwe professorale kollegas om hulle innoverende navorsing op ’n direkte wyse aan te bied.

Professor Charlene du Toit-Brits het haar intreelesing, getiteld Are we there yet? A sense of ownership: Empowering Self-Directed Students in Higher Education, gelewer.

Die welkomswoord is deur professor Erika Serfontein, waarnemende skooldirekteur van die Skool vir Professionele Studies in Onderwys (SPSO), gespreek.

“Dit is vir ons ’n eer om hierdie seremonie aan te bied waar ons professor Charlene du Toit Brits se aanstelling tot volle professorskap erken. Dit is vanaand die geleentheid om die kersie op die koek te plaas,” het sy bygevoeg.

Professor Du Toit-Brits het in haar lesing aangevoer dat ’n beduidende paradigmaskuif in hoër onderwys en in onderwys oor die algemeen vanaf die tradisionele, onderwysergesentreerde onderrigbenadering na ’n studentgesentreerde benadering vereis word. In ’n studentgesentreerde benadering tree onderwysers as fasiliteerders op, help studente om besluite te neem, doelwitte te stel en verantwoordelikheid vir en eienaarskap van hulle leerproses en uitkomste te neem.

Sy het die belangrike punte hieronder gebruik om die bespreking verder toe te lig:

· Selfgerigte leer: Is ons al daar? Onthulling van die reis na bemagtigende onderwys.

· Selfgerigte leer: Navigasie van die pad na akademiese uitnemendheid.

· Navigasie van die uitdagings van selfgerigte leer.

· Ondersoeking van die beduidendheid van selfgerigte leer in hoër onderwys: het ons al daar uitgekom?

· Navigasie van die pad van bemagtiging van selfgerigteleerstudente: ondersoeking van die fundamentele rol van ’n gevoel van eienaarskap in hoër onderwys.

· Aanbevelings vir die bemagtiging van hoër onderwys: ontketening van die mag van selfgerigte leer deur eienaarskap.

Prof Du Toit-Brits het voorts beklemtoon dat die implementering van selfgerigte leer (SGL) deurslaggewend is, aangesien SGL daarna streef om intrinsieke motivering, aktiewe betrokkenheid en ’n persoonlike belegging in hulle leerproses onder studente te kweek, en hulle te dwing om opvoedkundige strewes na te jaag wat met hulle persoonlike belangstellings en doelwitte ooreenstem.

Prof Du Toit-Brits het verder gesê dat die bevordering van SGL in hoër onderwys noodsaaklik is, aangesien dit die ontwikkeling van kritiese denke, selfmotivering, outonomie, selfgerigtheid, selfbeskikking, selfregulering, introspeksie en aanpasbaarheid aanmoedig. Dit rus studente toe met die nodige vaardighede om die kompleksiteite van ’n eietydse samelewing aan te durf. Sy is ook van mening dat die vermoë om van SGL gebruik te maak – met ander woorde om eienaarskap van jou eie leer te neem – ’n waardevolle vaardigheid vir studente is as ’n mens die veranderende landskap van hoër onderwys in ag neem. Sy het bygevoeg dat hierdie

vaardigheid studente in staat stel om sukses te behaal en eienaarskap te neem, nie net in ’n akademiese opset nie, maar ook in hulle toekomstige professionele lewens.

“SGL bied ’n insig in praktiese toepassings van opvoedkundige metodologieë en dosente moet ’n kultuur van samewerking vestig waar hulle ’n ondersteunende rol speel en studente bemagtig deur hulle by besluite oor die kurrikulum, assesserings en klaskameraktiwiteite te betrek. Dit sal studente nie net in staat stel om oor hulle eie leerprosesse na te dink, hulle sterk en swak punte te identifiseer, en hulle leerstyle ooreenkomstig aan te pas nie, maar sal ook ’n inklusiewe leeromgewing bevorder,” het prof Du Toit-Brits verder gesê.

Professor Washington Dudu, adjunkdekaan vir Navorsing en Innovasie, het die eer gehad om haar biografie voor te lees en haar akademiese toga amptelik om te hang. Hy het ook beklemtoon dat dit ’n oomblik is wat net een keer in ’n mens se lewe plaasvind en dat sy dit ten volle moet geniet.

Dr Henry Blignaut, hoof van die BEdHons-program en dosent, het professor Du Toit-Brits bedank vir die geleentheid om na haar aanbieding te luister en om iets by haar te leer. Hy het ook gepraat oor die beduidendheid van die fundamentele vraag wat in die intreelesing geopper is: “Koester ons werklik ’n kultuur waar eienaarskap van leer ten volle aanvaar word om studente as selfgerigte leerders te bemagtig?”

Professor Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Toegewysde Funksies en Kampusbedrywighede (PK), het aan prof Du Toit-Brits ’n sertifikaat oorhandig en haar gelukgewens.

“Ek wens jou geluk, Prof Charlene, dat jy by hierdie punt in jou akademiese reis gekom het. Ons vier dit saam met jou en ons sien uit na ’n blink toekoms saam met jou by ons universiteit.”

Daarbenewens het hy gesê dat die universiteit en die Fakulteit Opvoedkunde uitsien na die transformasie wat prof Du Toit-Brits gaan implementeer, aangesien hy daarvan bewus is dat sy nog altyd daarna gestreef het om ’n verskil te maak.

...

Professor Charlene du Toit-Brits

Submitted on Wed, 08/23/2023 - 07:39