Prof sit sy Oxford-navorsing voort

’n Medeprofessor in die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs van die Oxford Instituut vir Bevolkingsveroudering teruggekeer, waar hy drie maande lank navorsing gedoen het.

Prof Vhumani Magezi was ’n akademiese besoeker aan die instelling om sy navorsingsagenda binne een van die instelling se navorsingsprogramme voort te sit.

Prof Magezi se navorsingstemas is spirituele (pastorale) sorg, sosiale reaksies op MIV/Vigs en die reproduktiewe gesondheid van adolessente en jongmense.

Sy navorsing fokus op die daaglikse eksistensiële werklikhede van mense binne hul gemeenskappe. Dit gaan ook oor moontlike psigososiale en spirituele intervensies wat aangewend word in die geloofsgemeenskapsruimtes as substelsels van die samelewing om kwessies te hanteer.

Prof Magezi onderneem tans ’n navorsingsprojek genaamd “Overturning religion and health ambivalence gridlock as adolescent and youth sexual reproductive health (AYSRH) investment: towards optimisation and leveraging of church (faith) spaces as assets in AYSRH”.

Die doelwit van sy navorsing is om ’n moontlike kwantifisering van die potensiële bydrae van geloofsgroeperings tot AYSRH-intervensies in geselekteerde gemeenskappe in Suid-Afrika te ontwikkel.

Voordat hy ’n voltydse akademiese pos by die NWU beklee het, het hy in internasionale ontwikkeling oor gesondheid gewerk as senior bestuurder en leier in programbestuur (MIV/Vigs, seksuele voortplantingsgesondheid en gemeenskapsontwikkelingsprogramme) . Hy het ’n PhD van die Universiteit Stellenbosch.

Prof Magezi is ’n lid van verskeie internasionale en Suid-Afrikaanse nasionale akademiese en navorsingsliggame. Hy het reeds meer as 42 akademiese artikels, 35 navorsingsverslae en vier boeke oor sy navorsingsgebied gepubliseer.

 

 Prof Vhumani Magezi van die Skool vir Christelike Bediening en Leierskap aan die NWU.

 

Submitted on Wed, 04/24/2019 - 11:10