Prof Jonathan Calof neem sy bemarkingsinsig na ’n Mandarynse gehoor

Dit kom as geen verrassing nie wanneer ’n wêreldberoemde kundige in intelligensie en voorkennis soos prof Jonathan Calof van die Ottawa Universiteit in Kanada en buitengewone professor in die navorsingsfokusarea TRADE aan die Noordwes-Universiteit (NWU), nog ’n wêreldverhoog vind: China.

Prof Calof se boek, Gaining Market Insight from Events, is in Mandaryns vertaal en is onlangs amptelik in Shanghai vrygestel. Die boek se vrystelling in Chinees vorm deel van die konferensie van die Shanghai Competitive Intelligence Forum 2023, en is deur Chen Chao, die direkteur van die Shanghai Instituut van Wetenskaplike en Tegniese Inligting (Shanghai Institute of Scientific and Technical Information) in die Shanghai Biblioteek, bekendgestel.  

Die bekendstelling is gevolg deur ’n praatjie oor die boek deur prof Calof, wat al wêreldwyd by meer as 1 000 praatjies betrokke was en as UNESCO se medevoorsitter oor antisiperende stelsels vir innovasie en die skepping van ondernemings optree.  Benewens ’n magdom prestasies het hy al meer as 200 werke gepubliseer en is op die adviesraad van verskeie maatskappye.

Sy jongste werk stippel uit hoe handelskoue ’n wonderlike plek is om blootstelling in die tradisionele sin te verkry, maar ook ’n doeltreffende manier is om hierdie insigte te ontwikkel wat nodig is om ’n wenner in die markplek te wees. Hy skets in die boek ’n stel intelligensiemaatreëls vir gebeurtenisse wat ’n groot impak op organisasies se handelstentoonstellingopbrengste op beleggings gehad het.
 
Die boek gee vir die leser die nodige inligting wat organisasies moet hê om behoorlik georganiseer te wees en ’n stel intelligensiemaatreëls te hê wat hulle met handelstentoonstellings kan help.

In ’n mededingende wêreldarena het ’n mens gereedskap nodig om implementeerbare voordele te ontgin wat nodig is om geleenthede te benut. Gaining Market Insight from Events is presies dit.

Prof Jonathan Calof (middel) by die bekendstelling van die Mandarynse weergawe van sy boek Gaining Market Insight from Events.

Submitted on Thu, 11/16/2023 - 09:00