Prof Christa tree uit as redakteur van PER/PELJ

Sy is bekend vir haar skerpsinnigheid in die regte en toewyding aan haar beroep. Sy het ’n ellelange lys toekennings en prestasies, maar ná 22 jaar van toegewyde diens, tree prof Christa Rautenbach uit haar huidige rol as hoofredakteur van die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad (PER). In Engels staan dit as die Potchefstroom Electronic Law Journal (PELJ) bekend.

Die PER is in 1998 gestig, en is ’n baanbreker in eweknie-beoordeelde, ooptoegang- aanlyn publikasies. Prof Christa, ’n voormalige aanklaer, het aanvanklik vanaf 2002 tot 2012 as uitvoerende redakteur gedien, voordat sy na haar huidige en laaste pos geskuif het.

Prof Wian Erlank is as die nuwe hoofredakteur aangewys.

“Ek wil ons hartlike dank aan prof Christa Rautenbach oordra vir haar onbaatsugtige diens, onwankelbare toewyding en buitengewone leierskap tydens haar termyn. Onder haar leiding het die PER/PELJ floreer en sy reputasie vir uitnemendheid gestand gedoen. Prof Christa se bydraes was van onskatbare waarde, en ons is geweldig dankbaar vir haar toewyding om vakkundige navorsing te bevorder en ’n ondersteunende akademiese gemeenskap verder te ontwikkel,” het prof Mitzi Wiese, navorsingsdirekteur van die Fakulteit Regte aan die NWU gesê.

“Met hierdie oorgang verwelkom ons vir prof Wian Erlank as die nuwe hoofredakteur van PER/PELJ. Prof Wian Erlank bring ’n magdom ervaring en ’n vaste verbintenis om vakkundige diskoers te bevorder. Ons vertrou dat PER/PELJ onder sy leierskap sal voortgaan om te floreer en die verbintenis tot akademiese uitnemendheid in stand sal hou. Dit is goed om te weet dat prof Christa Rautenbach steeds as ’n redakteur ’n integrale deel van die redaksiespan sal uitmaak,” het sy voortgegaan.

Prof Rautenbach het op die PER/PELJ-webwerf gesê: “Ná 22 jaar van diens as hoofredakteur is dit met gemengde emosies dat ek my besluit aankondig om die leisels aan ’n nuwe leier oor te gee. Dit gee vir my groot vreugde om prof Wian Erlank as die nuwe hoofredakteur bekend te stel. Prof Erlank is al sedert 2014 ’n integrale deel van ons redaksiespan, en ek het volle vertroue in sy vermoë om die tydskrif na volgehoue sukses te stuur. Terwyl ons hierdie oorgang so naatloos as moontlik wil maak, voorsien ons ’n paar vertragings en tandekryprobleme langs die pad. Julle geduld en begrip gedurend hierdie tydperk word baie waardeer. Ek sal ’n tyd lank deel van die redaksiespan bly om ’n gladde oorgang te verseker. Dankie vir julle voortgesette ondersteuning en toewyding aan ons tydskrif.”

Prof Christa Rautenbach

Prof Christa Rautenbach

Submitted on Fri, 05/10/2024 - 14:37