Prestige en prag waar die NWU sy 20-jarige verjaardag vier

Dit was ’n gebeurtenis om te onthou toe hooggeplaastes en gaste by die Noordwes-Universiteit (NWU) byeengekom het om twee dekades van sukses te vier. Die universiteit het nie net aandag geskenk aan die talle mylpale en prestasies sedert sy stigting nie, maar ook vir die gaste ’n blik op sy planne vir die toekoms gegee.

“Die doelgerigte leierskap wat oor die jare heen deur al die NWU-leiers getoon is, het verseker dat ons ons pad suksesvol deur tydperke van onsekerheid en onrus kon baan, veral tydens die vroeë jare van die NWU,” het prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, gesê.

“Ons het na vore getree as vooruitskouende instelling met ’n holistiese opvoedkundige benadering, wat daarvoor bekend is dat sy gegradueerdes vir ’n snelveranderende wêreldomgewing voorberei word.”

Hy het die verskillende belanghebbers bedank wat dit moontlik gemaak het vir die universiteit se gegradueerdes om sukses te behaal. “Die vrugte van ons arbeid is sigbaar, soos gesien kan word aan ons prominente posisie op wêreldwye ranglyste gesien kan word, ons plek in die top-4,4% van universiteite wêreldwyd, en ons gegradueerdes wat met uitmuntendheid in verskeie sektors van die samelewing leierskapsposisies beklee.”

Onwankelbaar in die nastreef van akademiese uitnemendheid en maatskaplike geregtigheid

Hy het daarop gewys dat besluite deur die Raad en bestuur deurlopend deur beginsels van stabiliteit, sukses en volhoubaarheid bepaal word. “Dit is sedert die goedkeuring van ons vorige 2015–2025-strategie duidelik en bly in ons nuwe strategie vir 2024 en verder onveranderd.”

Ons is steeds standvastig in ons verbintenis om ’n geïntegreerde instelling te bou wat tot transformatiewe inisiatiewe en billike toewysing van hulpbronne regoor ons kampusse verbind is. Ons strewe na akademiese uitnemendheid en maatskaplike geregtigheid bly onwankelbaar.”

Nuwe grense en geleenthede blink op die horison

Prof Tyobeka het ’n klompie projekte uitgesonder om vir die gaste ’n blik op die toekoms te gee, soos die posisionering van die NWU Besigheidskool sodat daar voortgegaan kan word om merkwaardige leiers in verskillende bedrywe – plaaslik sowel as internasionaal – op te lei. Ander projekte sluit in dat daar met Noordwes se provinsiale regering saamgewerk word aan ’n program om die kapasiteit van munisipale en provinsiale regerings te vergroot. Dit sal lei tot die plasing van 100 gegradueerdes in die 22 munisipaliteite van Noordwes, en dat pogings geprioritiseer word om nagraadse studente en dié van die vermiste middelgroep te befonds.

Van die opwindende toekomstige ondernemings sluit die bekendstelling van die NWU Enterprises-entiteit om inkomstestrome te verhoog, en die stigting van ’n Skool vir Mynwese en Mynbou, sowel as die NWU Mediese Skool. Die NWU Mediese Skool het alreeds ministeriële ondersteuning ontvang. Daar word beoog dat die eerste inname in 2028 sal wees, met aanvanklik 50 studente, wat geleidelik tot meer as ’n honderd vermeerder sal word.

Die NWU het ook sy pogings vir internasionalisering en strategiese vennootskappe versnel. Dit het gelei tot verhoudings wat gesmee is met verskeie internasionale instellings terwyl die universiteit voortgaan om met talle ander instellings te skakel om sy teenwoordigheid op die wêreldverhoog te vergroot.

Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU Raad, sê die NWU se reis sedert die samesmelting was opwindend en vol gebeurlikhede terwyl dit sy pad in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap gebaan het. “Met die oorgang van ’n federale na ’n unitêre model is die NWU se suksesverhaal van akademiese uitnemendheid, navorsing en innovasie van wêreldgehalte, superieure onderrig en leer, en ’n vasberade toewyding aan volhoubare gemeenskapsbetrokkenheid wat ’n impak maak, voortgesit.”

Hy het beklemtoon dat die NWU sal voortgaan om ’n wonderlike toekoms vir al sy belanghebbers te skep en ’n verskil in die lewens van mense te maak – soos dit die afgelope twee dekades gebeur het.

As deel van sy hoofrede het adv Johan Kruger, voormalige voorsitter van die Raad, ’n insiggewende en bondige oorsig van die NWU se twee dekades van bestaan gegee. “Die NWU kan trots wees op wat hulle in ’n relatief kort tydperk bereik het. As ons onsself die vraag vra: Is die doelwitte van die samesmelting 20 jaar gelede bereik? spreek die feite vanself. Die antwoord is ’n duidelike ja. Die NWU het indrukwekkende en positiewe groei getoon, wat insluit dat die universiteit sy vlerke regoor die wêreld gesprei en internasionale verhoudings versterk het.”

Hy het gesê die doel was om ’n universiteit te skep waar personeel en studente demografies anders lyk as in apartheidsinstellings. Dit moes ook geleenthede skep deur ’n verskeidenheid kwalifikasies en deur sy navorsingsuitset te verbeter. “Probleme wat baie belangrik is vir instellings vir hoër onderrig sal steeds periodiek voorkom, maar ons kan sê dat die skip stabiel is, die rigting is bepaal en die kaptein en sy bemanning is deeglik in beheer.”

Die amptelike begin by die Feather Hill-venue in Potchefstroom op 14 Maart was die eerste in ’n reeks gebeurtenisse wat regdeur 2024 sal voortduur.

Hooggeplaastes en hooggeagte gaste het dr Anna Mokgokong, die NWU se kanselier, mnr Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU Raad, al die huidige en voormalige Raadslede, amptenare en verteenwoordigers van alle sfere van die regering, en lede van die NWU-strukture soos die Senaat, die Institusionele Forum, die NWU Konvokasie se uitvoerende komitee en die Raad van Donateure ingesluit. Studenteleiers het mnr Yikumba Andreas, NWU VSR-voorsitter, en huidige en voormalige studenteleiers ingesluit.

Die lied, The Journey, is spesifiek gekomponeer en geskryf om die NWU se 20-jarige verjaardag te vier. Om na die lied te luister, besoek: https://www.youtube.com/live/-VivXQLgrBI?feature=shared&t=4310.

..

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, en sy vrou, Ngeniswa, het saam met gaste ‘n heildronk op die NWU gedrink.

Submitted on Fri, 03/15/2024 - 10:01