Poppespel as opvoedkundige instrument vorm deel van die Noordwes-Universiteit (NWU) se finalejaarleerplan vir alle onderwysers in opleiding vir die Grondslagfase (graad R tot graad 3).
By die kampus in Vanderbijlpark word daar van hierdie studente in die Fakulteit Opvoedkunde verwag om dan hulle kennis toe te pas deur poppespele by die plaaslike skole aan te bied.
Die kuns van ’n poppespel
Volgens dr Ria Booysen, ’n senior lektor in die fakulteit, kan poppe in die hande van onderwysers die weg vir waardevolle leergeleenthede in talle ontwikkelingsareas baan.
“Poppe is onderhoudende speelgoed wat kan help om mondelinge taalvaardighede en kommunikasie, en sosiale en emosionele ontwikkeling te ondersteun, en kinders te help om die wêreld om hulle deur veilige en verbeeldingryke spel te leer ken en te verstaan,” verduidelik dr Booysen.
Daarmee in gedagte word studente vanaf hulle eerste studiejaar die kuns van poppespel geleer. Tydens hulle vierde jaar moet hierdie studente die poppe op ’n praktiese manier by hulle lesplanne inkorporeer, self lewensgetroue poppe skep, en interaktiewe tekste kan skryf wat ’n morele lessie insluit. Kortom: hulle moet die tegniese aspekte van ’n effektiewe poppespel bemeester.
’n Jaarlikse poppespelwerkswinkel dien as vertrekpunt, waarna studente hulle eie karakters en poppe moet ontwikkel. Dit sluit metodologiese eienskappe soos beweeglikheid, verskillende stemaksente en die identiteit van die poppe in. Studente word deur die kuns van poppespel bemagtig om al die kennis en vaardighede wat hulle tydens hulle vier jaar van studie verwerf het binne die omvang van grondslagfase-onderrig aan te wend.
“Aangesien poppespel elemente van alle kunsvorms insluit, soos letterkunde, skilderwerk, beeldhouwerk, dans en drama, stel dit studente in staat om hulle kreatiewe vermoëns ten volle te ontwikkel,” verduidelik dr Booysen.
Sy vertel verder dat wanneer studente hulle tekste vir ’n poppespel skep, dit aan ’n streng stel kriteria moet voldoen. Dit sluit interaktiwiteit in, dat dit ouderdomsgepas moet wees, by die inhoud van die leerplan moet aansluit, en van bykomende rekwisiete gebruik moet maak wat begrip en betekenis bevorder.
Dr Booysen sê dat studente ook hulle poppe kan gebruik om ekstra geld te verdien deur by skole en dagsorgsentrums op te tree en sodoende bykomende entrepreneursontwikkeling aan te moedig.
Die poppe word gebruik om kinders te help om nuwe kennis op te doen, deur trauma te werk, sensitiewe kwessies soos seksuele mishandeling, rassisme en boeliery te verduidelik, asook om woordeskat en kommunikasievaardighede uit te brei.
Impak op die gemeenskap
Tydens ’n onlangse gemeenskapsuitreikprojek het die fakulteit ’n helpende hand na de El Shaddai Laerskool uitgesteek deur ’n dag van leer aan te bied. Studente het daar hulle poppespelvaardighede ten toon gestel en die jongelinge met storievertelling, lees en musiek besig gehou.
Tweedejaarstudente het ’n versameling spesiaal gemaakte boeke aan die skool geskenk wat daarop gemik is om taalonderrig te vereenvoudig. Hierdie boeke, wat op ’n unieke manier deur elkeen van die studente saamgestel is, illustreer die konsep van doenwoorde en bevat illustrasies en sinne in Afrikaans, Engels en Sotho.
Die dag van leer het op ’n hoë noot met ’n lewendige poppespel afgesluit.
Ruan Strauss, Amoré Hattingh, Sharleze Lourens en Conita Oosthuizen met hulle poppe
Dr Ria Booysen en ’n groep gelukkige leerders met hulle nuwe boeke