Planne vir die NWU Mediese Skool op koers

Die impak van die Covid-19-pandemie en die geweldige spanning en las wat dit op Suid-Afrika se mediese kundiges geplaas het, het die Noordwes-Universiteit (NWU) se saak vir ’n mediese skool in Noordwes dramaties versterk.

Amptelike NWU-dokumente beweer dat, ten spyte daarvan dat daar mededingende belange en finansiële druk as gevolg van Covid-19 is, het die pandemie die behoefte aan die gerief beklemtoon.

“Dit is ’n saak wat ons steeds sal nastreef, omdat ons werklik glo dat die nuwe NWU Mediese Skool in die behoeftes van voornemende studente en die publiek ten opsigte van inskrywingsgeleenthede en openbare gesondheid in die land sal voorsien,” het die NWU Raad se voorsitter, dr Bismark Tyobeka, ná die onlangse raadsvergadering op 18 Maart 2021 gesê.

Die NWU se Mediese Skool-taakspan, wat ook deur dr Tyobeka gelei word, is gestig om die saak vir ’n mediese skool by die universiteit te ondersoek. Die ander taakspanlede is prof Dan Kgwadi (NWU se visekanselier en hoof), prof Awie Kotzé (Dekaan: NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe), prof Andrew Robinson (Adjunkdekaan: Strategie en Besigheidsontwikkeling in dieselfde fakulteit) en mnr Terry Wickham (konsultant van Healthcare Initiatives).

In sy jongste verslag het die taakspan gesê dat die volgende stap sal wees om dringende vergaderings met die premier van Noordwes, die provinsiale Departement van Gesondheid, die nasionale Departement van Gesondheid en die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Bonginkosi Blade Nzimande, te belê. ’n Vergadering het op 26 Maart 2021 met die provinsiale leierskap van Noordwes plaasgevind, waartydens ’n gesamentlike taakspan op die been gebring is.

“Ons bly optimisties oor die geleenthede vir samewerking en ondersteuning van sleutelbelanghebbers op nasionale en provinsiale vlak,” voeg dr Tyobeka by, en noem dat die bestuursliggaam die taakspan se planne ondersteun om vir die dringende stigting van die NWU Mediese Skool te vra.

Die moontlikheid om ’n mediese skool te stig, is so lank gelede as in 2006 geopper, maar dit was eers in 2017 dat die beplanning van die grond af gekom het. Sodra die finale goedkeuring deur die relevante owerhede gegee is, sal die NWU die 11de universiteit in die land word wat ’n mediese skool het.

 Vroeër hierdie jaar was die fokus op die Nelson Mandela Universiteit ná sy stigting van die 10de en jongste mediese skool in Suid-Afrika. Die universiteit, wat in die Oos-Kaap geleë is, het aangekondig dat hulle daarna uitsien om hulle eerste groep mediese studente te verwelkom. Daar was net 50 plekke beskikbaar, maar meer as 3 500 aansoeke is ontvang, wat die buitengewone hoë vraag na mediese opleiding by die baie beperkte getal mediese skole in die land beklemtoon.

Met die aankondiging van die opening van die nuwe mediese skool in die Oos-Kaap, het die hoë koste vir die bedryf van so ’n skool onder die soeklig gekom. Dit lyk egter of die mediese gemeenskap en sosiale groepe saamstem dat die behoefte aan opgeleide mediese personeel, veral dokters, die koste van die stigting en bedryf van mediese skole ver oorskry.

Die NWU het voorts ’n unieke en deurslaggewende waardeproposisie in hulle beplanning vir die beoogde nuwe NWU Mediese Skool wat sal verseker dat die tipiese stigtings- en bedryfskoste beperk sal word sonder dat gehalte van opleiding en uiteindelike uitkomste ingeboet word.

Daarbenewens het ’n webinaar wat verlede jaar deur die NWU aangebied is die ernstige nood vir die jaarlikse lewering van gekwalifiseerde mediese personeel, veral mediese dokters, beklemtoon. Hierdie ernstige situasie het as gevolg van die huidige Covid-19-pandemie net nog erger geraak.
In die lig van die toenemende behoefte aan mediese kundiges is die NWU duidelik op koers om in ’n dringende behoefte te voorsien – nie net in Noordwes nie, maar ook in Suid-Afrika en die streek as geheel.

Submitted on Tue, 04/06/2021 - 13:36