PhD-driekuns vir Van Schalkwyk-gesin

ʼn Baie trotse dr Schalk van Schalkwyk senior het toegekyk hoe albei sy seuns in sy voetspore volg. Hugo en Schalk junior het albei hul PhD-grade tydens die onlangse herfsgradeplegtigheid op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark ontvang.

Dr Van Schalkwyk senior was ʼn dosent op die kampus totdat hy in 2011 afgetree het. Die liefde vir sy vakgebied, bestuur, het hom egter gou weer na die klaskamer sien terugkeer, en hy doseer vandag nog by die Vaal Universiteit vir Tegnologie.

Albei seuns is dosente op die NWU se kampus in Mahikeng en bou voort op hul pa se akademiese grondslag.

Die navorsing van Schalk junior het kredietverbruik onder Generasie Y-studente ondersoek, en ʼn model van die faktore wat hierdie groep se voornemens beïnvloed om krediet te gebruik, empiries getoets.

Hy het bevind dat materialisme en statusverbruikerstendense die houdings van Generasie Y-studente teenoor geld beïnvloed. Hy het gevind dat dit, tesame met impulsiewe aankope en sosiale vergelykingstendense, ʼn impak het op Generasie Y-studente se houding teenoor krediet en hul uiteindelike voornemens om krediet te gebruik. Sy tesis het hom ʼn PhD in bemarkingsbestuur in die sak gebring.


Drr Hugo, Schalk (sr) and Schalk (jr) Van Schalkwyk.

Kleinboet Hugo – sewe jaar sy junior – het ʼn PhD in ekonomiese en bestuurswetenskappe met bemarkingsbestuur verwerf. Sy studie getiteld “Factors influencing effective relationship marketing by smartphone brands through social media amongst Generation Y students”, het tot die ontwikkeling gelei van ʼn strukturele model om Generasie Y-studente en hulle verhouding met beide slimfone en sosiale media-bemarking te toets.

Verder verteenwoordig die model ʼn waardevolle raamwerk vir slimfoonmaatskappye om sosiale media-bemarking beter te kan gebruik om Generasie Y-studente te bereik.

Beide broers reken hulle pa was hul bron van inspirasie. Schalk senior het weer aan sy vrou hulde gebring vir haar jarelange ondersteuning terwyl hy met sy eie navorsing besig was.

Die broers het hulle groot dag gedeel met hulle ouers, eggenote en tante aan vaderskant wat pas vir haar eie PhD ingeskryf het.

Submitted on Thu, 04/25/2019 - 08:22