Openbare lesing fokus op Griekse papirologie

Die Skool vir Antieke Taal en Teksstudie van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Teologie is die tuiste van toonaangewende kundiges oor klassieke Latyn, antieke Grieks en die tale van die antieke Nabye Ooste. Een so ’n kundige is dr Isabella Bonati, ’n postdoktorale genoot in Latyn.

Openbare lesing

Dr Bonati sal op 21 Februarie 2018 die hoofspreker wees by ’n openbare lesing wat deur die NWU se Antieke Geskiedenisvereniging en die navorsingsfokusarea Antieke Tekste: Tekste, Kontekste en Resepsie aangebied word. Die titel van die lesing is: “From the dry sand (and the garbage) of Egypt … a journey into Greek papyrology”.

Die lesing is oop vir alle belangstellende persone – hetsy personeel, studente of lede van die publiek wat in tale en geskiedenis belangstel. Die lesing begin om 19:00 in die Teologie-gebou (K23) op die NWU se kampus in Potchefstroom. Vir meer inligting, stuur asseblief ’n e-pos aan Johan.Steenkamp@nwu.ac.za.

Meer oor dr Isabella Bonati

Dr Bonati werk by die Università di Parma in Italië en is ’n kundige navorser in Sosiolinguistiek, Semantiek en Filologie. 

Tydens die openbare lesing sal dr Bonati meer lig op die verlede werp deur antieke persoonlike korrespondensie te lees wat in Grieks-Romeinse Egipte op papirusse bewaar is. Hierdie korrespondensie sluit in mediese voorskrifte, klagtebriewe, amulette, en nog meer.

* Die Università di Parma is een van die oudste universiteite ter wêreld en is in de 10de eeu gestig.

 

 

Submitted on Wed, 02/14/2018 - 10:36