Oortuigende oorwinning bring Young Guns na die semifinaal

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Young Guns (YG) het op Maandag 8 April 2024 tot binne-in die semifinaal van die FNB Young Guns 2024 gestorm ná ’n vernietigende oorwinning van 41-14 oor die UWK YG in Bellville.

Ná ’n opwindende eerste helfte het die NWU YG met rustyd met 20-0 voorgeloop, en dit het nie gelyk of die UWK YG daarvan gaan herstel nie. ’n Vernietigende vertoning in die tweede helfte deur die NWU YG het verseker dat hulle die maksimum punte aangeteken het, en hulle het hulle onoorwonne lopie voortgesit – ses oorwinnings in ses wedstryde. Die NWU YG het met 29 punte boaan groep B geëindig, gevolg deur Maties YG (17) en die UWK YG (10). Die UJ YG het die groep met 9 punte afgesluit.

Hoewel die wedstryd onder moeilike omstandighede gespeel is, het afrigter Hannes Esterhuizen sy spelers se spel geloof.

“Sterk wind en reën het veroorsaak dat ons ’n ander soort spel moes speel as waaraan ons gewoond is. Ons speel gewoonlik ’n wye en oop spel, maar in hierdie toestande kon ons dit nie doen nie. Die ouens het baie goed aangepas, en was baie gedissiplineerd,” sê Hannes.

Kraynu Kruger (haker), Johan Derrick van Zyl (linkerslot), Jean Jooste (regterflank), Stephen Taylor (nommer 8), Colen Steenkamp (skrumskakel), Jay-Tee Goerge (regtervleuel) en Jamaine Dampies (heelagter) het die sewe drieë gedruk. Die skopskoen van Duan du Toit (losskakel) het drie van die doelskoppe vir NWU YG oorgeklits [.

Die NWU YG gaan hierna op Maandag 15 April die gasheer vir die UK YG op die Fanie du Toit Sportterrein wees. Die twee spanne het nog nie teen mekaar te staan gekom nie, wat dit ’n wedstryd maak om na uit te sien.

“Uitspeelwedstryde is altyd moeilik, en wat in die vorige ses wedstryde gebeur het, tel nie op hierdie dag nie, aangesien dit ’n wen-of-verloor-situasie is. Ons sal op ons heel beste moet speel as ons wil deurgaan,” het Hannes afgesluit.

Submitted on Fri, 04/12/2024 - 12:20