Hoe werk oognaspeuring?
Oognaspeuring is die wetenskap van die meting van die beweging van ’n individu se oë in reaksie op ’n visuele of ouditiewe stimulus. Dit word gedoen deur middel van ’n kontakvrye, afstandbeheerde infrarooi-kamera met ’n outomatiese oog- en kopnaspeurder. Die stelsel gee terugvoer aan ’n werklike operateur oor die posisie waar die persoon se blik gefokus was, die deursnee en posisie van die pupil, die korneale refleksposisie, naspeuringstatus en die oogbeeld. Dit werk selfs as die gebruiker ’n bril of kontaklense dra.
In die sakewêreld en die bedryf het hierdie soort tegnologie tallose gebruike: virtuele en verhoogde realiteit maak van oognaspeuringsnavorsing gebruik om die ontwerpers van speletjies in staat te stel om ’n meer driedimensionele speletjie-ervaring vir hulle gebruikers te skep en hulle interaksieplatforms te verfyn.
Elke sakeonderneming moet deesdae aanlyn meeding en ’n interessante web-ervaring kan net daardie verskil maak. Oognaspeuringstegnologie kan gebruik word om te ontdek hoe mense webwerwe (of selfoontoepassings) gebruik deur te kyk watter deel van die bladsy die oog vang, watter deel nie raakgesien word nie, en waar die uitleg aangepas kan word om meer gebruikersvriendelik te wees.
Navorsing by die NWU
In die akademiese konteks van die Skool vir Tale word die oognaspeuringstegnologie tans gebruik in ’n PhD-studie wat die manier ondersoek waarop leerders Sepedi en Engels lees.
Die navorser kan deur middel van oognaspeuring bepaal hoe leerders lees en waarmee hulle sukkel. Op die gebied van basiese onderwys kan sulke inligting gebruik word om intervensieprogramme te skep en leerders te bemagtig op ’n tydstip waar swak leesvaardighede en ongeletterdheid ’n nasionale probleem is.
Nog ’n projek binne die skool doen navorsing oor die kognitiewe pogings van ’n leerder of student terwyl hulle na opvoedkundige video’s met onderskrifte kyk. Wanneer die leerders moet lees en terselfdertyd na die video kyk, word die vraag gevra of leerders by so ’n video baat vind en of hulle ’n oorlading van inligting ervaar.
Die antwoorde op sulke vrae kan gebruik word om die opvoedkundige ontwerp van materiaal te heroorweeg.
Wanneer ’n student byvoorbeeld ’n tweetalige toets aflê, in watter mate gebruik hulle albei tale om die vraag te verstaan? Studies oor die gebruik van breinkaarte as studie-instrumente is ook uitgevoer. Sommige studente wat breinkaarte gebruik, sukkel skynbaar steeds met hulle studies. Waarom is dit so?
Dit lyk of daar geen einde aan die potensiaal van oognaspeuringstegnologie is nie. Die Skool vir Tale en privaat navorsingsvennote doen byvoorbeeld navorsing oor vlugsimulering, en fokus daarop om die mees logiese uitleg vir die kontroles van die vliegtuig te bepaal.
Een ding is seker, oognaspeuringstegnologie is aan die groei, en wie weet hoe dit vir ons nuwe wêrelde met nuwe moontlikhede kan open.