Onveranderde rentekoers geen verrassing nie

Die jongste verklaring deur die Monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) was weer eens sonder verrassings, nadat die komitee vir die sesde keer die afgelope jaar rentekoerse onveranderd gelaat het.

In sy kommentaar oor die besluit deur die MBK om weer eens rentekoerse onveranderd te laat, het prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, gesê dat leenkoste – soos verwag is – vir verbruikers en sakelui dus langer hoër sal bly.

“Die MBK glo nou dat kerninflasie gouer die verlangde teiken van 4,5% sal bereik – teen die tweede kwartaal eerder as die vierde kwartaal van 2025 – aangesien die risiko’s vir inflasie nou as gebalanseerd beskou word, eerder as dat dit aan die styg is.”

Hy sê dat dit in ieder geval onwaarskynlik is dat rentekoerse voor heelwat later in 2024 verlaag sal word, en dat dit ook van inflasionêre verwagtings en van die tydsberekening van enige rentekoersverlagings deur die Amerikaanse Fed sal afhang.

“Die MBK het sy groeivooruitsig van 1,2% vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2024 herbevestig, terwyl die risiko’s vir die groeivooruitsig steeds as ‘gebalanseerd’ beskou word.”

Prof Parsons wys daarop dat die MBK ook beklemtoon het dat ’n positiewe faktor in die groeivooruitsig sou wees dat die huidige vordering met die opheffing van beurtkrag vir die res van die jaar volgehou word. Dit beklemtoon die mate waartoe Suid-Afrika se belegging en groeivooruitsigte van ’n volhoubare oplossing vir sy energiekrisis afhang.

“’n Oorheersende tema in die MBK se verklaring was ongewoon verhoogde onsekerheid in die evaluering van die ekonomiese vooruitsig, insluitend politieke onsekerheid in Suid-Afrika en tendense in die land se risikopremie.”

Prof Parsons sê die kwartaallikse NWU Beleidsonsekerheidsindeks (BOI), wat aan die einde van Junie verskyn, sal weer enige veranderinge in die vlak van beleidsonsekerheid in die nadraai van Suid-Afrika se deurslaggewende 2024-verkiesing op 29 Mei kalibreer.

Submitted on Fri, 05/31/2024 - 09:47