Onveranderde beleggingsgraad is positief

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dat die jongste besluit deur graderingsagentskappe om Suid-Afrika se beleggingsgraad en ‑vooruitsig onveranderd te laat, positief is.

“Die feit dat die graderingsagentskappe Standard & Poor’s en Fitch albei Suid-Afrika se soewereine kredietgradering – wat tans ver onder beleggingsgraad is – vir eers onveranderd gelaat het, is positief,” sê hy.

Prof Parsons sê dat dit ten minste vir Suid-Afrika meer tyd gee om sy ekonomiese huis in orde te kry. Di jongste ekonomiese vooruitskatting deur Fitch is in ooreenstemming met die tendense wat in die Monetêre Beleidskomitee se jongste verklaring op 20 Mei uiteengesit is, met die groei van die bruto binnelandse produk (BBP) wat nou na verwagting in 2021 4% sal oorskry.

“Hierdie sterk “terugsprong” in die Suid-Afrikaanse ekonomie hierdie jaar word hoofsaaklik deur die basishersteleffek vanaf die negatiewe BBP-groeiprestasie van -7% verlede jaar gedryf, nou in samehang met die vaste ondersteuning van wêreldkommoditeitspryse.”

Prof Parsons sê dat hoewel hulle die graderingsterkte in die Suid-Afrikaanse situasie erken, albei graderingsagentskappe weer eens gewaarsku het dat strukturele beperkings, die behoefte aan fiskale volhoubaarheid en ’n stadige implementering van inentings onder die vernaamste struikelblokke is wat groei gaan beperk.

“Daar is konsensus tussen die twee jongste graderingsagentskapevaluerings dat daar steeds beduidende risiko’s vir skuldstabilisering is wat suksesvol bestuur moet word. Die regering het in reaksie hierop erken dat die land se kredietgradering onder druk verkeer en gesê dat hulle daartoe verbind bly om dit te hanteer.”

Volgens prof Parsons is dit duidelik dat Suid-Afrika daarom moet begin om sy pad uit rommelstatus te begin soek en ’n beter beleggingsgradering moet najaag.

“Die onmiddellike prioriteite vir Suid-Afrika bly steeds om ’n suksesvolle implementering van inentings te verseker, sy staatsfinansies te stabiliseer, sy ondernemings in staatsbesit op ’n gesonde finansiële grondslag te plaas en om energiesekerheid te verskaf.”

Prof Parsons sê dat hierdie vierdelige klem op die kort termyn – saam met ander ekonomiese hervormings – sal help om ’n gesonde grondslag te lê om die huidige sikliese ekonomiese herstel in volgehoue arbeidsryke groei op die medium termyn om te skakel.

Submitted on Mon, 05/24/2021 - 16:24