Ons waak teen GBV-insidente wanneer die akademiese jaar begin

Die Noordwes-Universiteit (NWU) verwelkom hierdie maand ons eerstejaars en terugkerende studente op ons kampusse. Hoewel verskeie forums in plek is om studenteveiligheid te verbeter, veral dié van vroulike studente, gaan voortslepende beurtkrag waarskynlik ’n omgewing skep wat kan veroorsaak dat misdaad gedy.

Ons is gelukkig dat wyle prof Marilyn Setlalentoa – die NWU se vorige adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede – passievol daaroor was om misdaadkwessies wat studente en hulle veiligheid by hierdie universiteit raak, te hanteer.

Ons kampusbestuurders is onder haar leierskap uitgedaag om kreatiewe maniere te vind om die stygende misdaad teen ons (hoofsaaklik vroulike) studente op die kampus en op plekke soos Dibate, Montshioa en so meer, hok te slaan. Verskeie multibelanghebberveldtogte om geslagsgebaseerde geweld (GBV) te beveg, is reeds van stapel gestuur en sal voortgaan.

As leiers is die NWU-bestuur bewus van die realiteit dat, soos die SAPD ons keer op keer waarsku, misdaad ’n maatskaplike verantwoordelikheid is, en dat gemeenskapspolisiëringsforums dus nie genoeg beklemtoon kan word nie. Ons moet almal misdaad aanmeld waar ons dit sien. Ons kan nie maak of ons dit nie raaksien nie.

Op kampusvlak werk alle NWU-bestuurders saam en studenteleiers doen ook hulle deeltjie om die gety van geweld teen vroulike studente om te keer. Indien enige van ons studente die slagoffer van GBV is, moet sulke insidente by die NWU se Departement Beskermingsdienste aangemeld word. Hulle sal dan met die wetstoepassingsowerhede skakel.

Wanneer ons ons studente op die kampus terugverwelkom, laat ons hulle daaraan herinner om praktiese stappe te doen om moontlike insidente van geweld te vermy, deur byvoorbeeld in groepe te stap, donker en swak verligte plekke en afgesonderde gebiede te vermy, en alle insidente van geweld aan Beskermingsdienste te rapporteer.

Vroue wat aangeval word, moet ’n kriminele klag by die SAPD indien en moet dit deurvoer om te verseker dat die stryd teen GBV kan voortgaan. Hulle sal ondersteun word om te verseker dat die klagtes opgevolg word.

Die tyd om die stryd teen GBV te verskerp, is nou.

“Wathint' Abafazi, Wathint' Imbokodo” (slaan jy die vroue, slaan jy die rots).

Submitted on Wed, 02/15/2023 - 07:33