Ondersoek maatskaplike geregtigheid in arbeidsreg, en hoe dit gemeet kan word

Maatskaplike geregtigheid in arbeidsreg is nie abstrak en ontasbaar nie – dit is wel meetbaar. Om dit te bewys, is prof Paul Smit, ’n navorser in arbeidsverhoudinge, besig om te ondersoek of dit moontlik is om ’n telkaart vir maatskaplike geregtigheid te ontwikkel, soortgelyk aan ’n telkaart vir indiensnemingsgelykheid of vir breë swart ekonomiese bemagtiging.

“Wat is maatskaplike geregtigheid en hoe kan dit in arbeidsreg gemeet word?” is die kernvraag van die jongste navorsingsprojek van prof Smit, ’n medeprofessor en programleier vir Arbeidsverhoudingebestuur in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

“Ek het nog altyd volgehou dat arbeidsregte ook menseregte is, en met die werksomgewing wat as gevolg van internasionale handel en globalisasie so vinnig verander, het arbeidsreg ’n transnasionale karakter verkry,” sê prof Smit, wat glo dat maatskaplike geregtigheid die hart van die samelewing is.

Hy omskryf maatskaplike geregtigheid as “die billike verspreiding van hulpbronne, geleenthede en voorregte in die samelewing”.

Meting van maatskaplike geregtigheid in arbeidsreg

Prof Smit se navorsing oor die ontwikkeling van ʼn telkaart vir maatskaplike geregtigheid behels die insameling van data deur opnames en konsultasies met belanghebbers, asook die ontleding van regsake vir insigte in die doeltreffendheid en impak van arbeidswetgewing oor maatskaplike geregtigheid.

Verskillende aanwysers en metrieke kan oorweeg word om maatskaplike geregtigheid in arbeidsreg te meet, insluitend gelykheid in lone en salarisse, diskriminasie in die werkplek, indiensnemingsregte en  beskerming, kollektiewe bedinging, tevredenheid en welstand van werknemers, inkomste-ongelykheid, toegang tot opleidings- en bevorderingsgeleenthede, sosiale dialoog, werksekerheid en -onsekerheid, asook teendiskriminasie- en diversiteitsbeleide.

Prof Smit is uitgenooi om as besoekende genoot ’n medewerker te wees by Cambridge Universiteit in die Verenigde Koninkryk, wie se Sentrum vir Besigheidsnavorsing (Centre for Business Research, CBR) ’n datastel vir ’n arbeidsreguleringsindeks (Labour Regulation Index, LRI) vir 117 lande ontwikkel het. Hierdie indeks gebruik 10 aanwysers om lande, billike lone, behoorlike werksure, werksekerheid, gesinsverantwoordelikhede, ouerskap by die werk, veilige werk, maatskaplike sekuriteit, billike behandeling, kinder- en dwangarbeid, en vakbonde te evalueer.

“Ek sien uit daarna om te ondersoek hoe die LRI vir arbeidsregnavorsing gebruik kan word, veral in vergelykende arbeidsregnavorsing,” sê prof Smit. Hy en die direkteur van die CBR, prof Simon Deakin, beplan ook om te ondersoek of ’n telkaart vir maatskaplike geregtigheid saam met die LRI gebruik kan word.  

“Die doelwit is dus om nie net die vlakke van arbeidsregulering in ’n land vas te stel nie, maar ook om te bepaal tot watter mate die arbeidswetgewing van ’n land ’n bydrae tot maatskaplike geregtigheid kan lewer en die bereiking daarvan kan bevorder.”

Vir meer inligting, kontak prof Paul Smit by: Paul.Smit@nwu.ac.za.

Prof Paul Smit

Submitted on Wed, 09/27/2023 - 15:28