NWU-WHO-leerstoelprogram ondersoek Afrika se handelspotensiaal

Sedert die Wêreldhandelsorganisasie se leerstoelprogram (WCP) binne die TRADE-navorsingsfokusarea by die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n paar jaar gelede bekendgestel is, het Afrika ’n sleutelfokusarea vir die WCP se navorsings- en uitreikaktiwiteite gebly.

Hoewel Afrika bekend is daarvoor dat dit die potensiaal het om ’n ekonomiese reus en handelskern te word, bly talle handelsgeleenthede onontgin omdat lande dikwels nie die vermoë het om hulle te identifiseer nie. Handelsinisiatiewe kan egter nie sukses behaal in die afwesigheid van betroubare inligting oor uitvoer- en verskaffermarkte en verwante produkgeleenthede nie.

“Ons was in staat om deur die leerstoelprogram na ander WHO-leerstoele en kontakte op die vasteland uit te reik en saam te werk om nuwe maniere te vind om handelspotensiaal te ontsluit, veral op streeksvlak,” sê prof Wilma Viviers, bekleër van ’n WHO-leerstoel sedert 2014.

Prof Viviers het al ’n aantal handelsverwante navorsings- en uitreikaktiwiteite op die vasteland gelei, met die WCP-span se werk in Rwanda, Kameroen en Tunisië wat veral interessant en lonend was.

In elkeen van hierdie inisiatiewe was die TRADE-DSM- (Decision Support Model) markseleksie-instrument ’n kerneienskap. Die TRADE-DSM gebruik die krag van grootdata om uitvoergeleenthede met ’n hoë potensiaal raak te sien en is ’n kostedoeltreffende manier om uitvoergeleenthede uit te soek, wat regerings, bedryfsektore en sakeondernemings help om hulle besigheid vaartbelyn te maak en hulle uitvoermark-ontwikkelingspogings te verseker.   
Dr Richard Newfarmer, die landsdirekteur van die International Growth Center in Washington DC en ook lid van die adviesraad van die WCP, sê die volgende: “Een van die onbesonge deugde van die WHO se leerstoelprogram is die rol wat dit speel as katalisator om Suid-Suid-gesprekke oor handel aan te moedig en by mekaar te leer. Ek was verheug om die Suid-Afrikaanse span se ondersteuning te verkry om ’n ontleding vir Rwandese amptenare te verskaf, en hulle 172-bladsy-verslag was geweldig waardevol.”  

Rwanda word dikwels as voorbeeld vir die res van Afrika voorgehou van wat bereik kan word wanneer ’n land se leierskap op sterk groei en ontwikkeling ingestel is. Rwanda het egter beduidende uitdagings op die handelsfront, aangesien dit deur land omring is en die ekonomie ’n gebrek aan diversiteit toon.

Die WCP-span se werk met Rwandese beleidmakers het ten doel om die land te help om deur sy uitdagings te werk en om sy potensiaal as streeksverskaffer ’n hupstoot te gee. Die WCP-span het met behulp van die TRADE-DSM die top-25 produkte met uitvoerpotensiaal (ten opsigte van waarde) oor 16 verskillende sektore geïdentifiseer.

Prof Viviers en mnr Martin Cameron van Trade Advisory werk saam met die regering van Kameroen en die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika om insette te verskaf om nuwe lewe te blaas in Kameroen se industrialisasieplan binne die konteks van die Afrika- kontinentale vryehandelsgebied.

Prof Viviers en mnr Cameron het die taak om met behulp van TRADE-DSM die handelspotensiaal van produkte uit Kameroen in verskillende markte (in die lig van heersende tarief- en nietariefversperrings en politieke en kommersiële risiko’s) te evalueer. Hulle sal in Maart 2021 ’n finale verslag oor hulle bevindings aanbied.

Prof Viviers en die WCP-span werk ook saam met die WHO-leerstoel in Tunisië aan ’n driejaar- bilaterale navorsingsprojek wat gemik is op die identifisering van handelsgeleenthede tussen Suid-Afrikaanse en Tunisiese klein en mediumgrootte ondernemings (KMO’s). Die fokus op KMO’s is veral betekenisvol in die lig van hulle ekonomiese belangrikheid en potensiaal in albei lande en die feit dat hulle dit dikwels moeilik vind om as gevolg van beperkte kennis en hulpbronne handelsgeleenthede na te jaag.

Die projek het ’n ontwikkelingselement wat gemik is op die voorbereiding van geselekteerde groepe KMO’s in elke land om die geïdentifiseerde bilaterale uitvoergeleenthede deur die deel van inligting, direkte betrokkenheid en kapasiteitsbou te bevorder.

TRADE-WTO


Vir meer inligting oor die werk van die NWU-WHO-leerstoelprogram, kontak prof Wilma Viviers by wilma.viviers@nwu.ac.za.

Prof Wilma Viviers   Martin Cameron
Prof Wilma Viviers   Martin Cameron

 

Submitted on Tue, 03/16/2021 - 15:13