NWU wens sy Olimpiese helde geluk

Die topplekke in enige sportsoort is slegs vir ’n paar uitgesoektes beskore: diegene wat – deur vasberadenheid – hulle talente op hulle gebied ten volle gebruik. Dit is geen maklike taak nie, en slegs ’n paar kom bo uit. Wanneer dit gebeur, is hulle prestasies daar vir die wêreld om te aanskou – en veral by die Olimpiese Spele.

Op Vrydag 20 Augustus 2021 het die Noordwes-Universiteit (NWU) die prestasie gevier van ’n groep merkwaardige mense wat dit reggekry het. By die onlangse Olimpiese Spele in Tokio, Japan, het die personeellede Jean Verster, dr Pieter Kruger, Pierre Blignaut en Elroy Gelant, alumni Wayne Snyman en Ceila Seerane, en die studente Jo-Ané van Dyk, Pieter Conradie, Zakithi Nene, Chederick van Wyk en Charné Maddocks almal diep spore op Japannese bodem agtergelaat.   

“Ons as universiteit is trots op ons studente, kollegas en alumni wat nie net Suid-Afrika se vaandel by die Olimpiese Spele hoog gehou het nie, maar ook dié van die Noordwes-Universiteit. Ons as instelling is dankbaar vir die bydrae wat hierdie individue tot ’n wonderlike gebeurtenis gelewer het,” sê dr Sibusiso Chalufu, Uitvoerende Direkteur: Studentelewe aan die NWU.

“Ons het hierdie funksie gehou om ons dankbaarheid aan hulle te toon omdat hulle ons land en die universiteit verteenwoordig het. Baie geluk aan elkeen van hulle.”

Met die volgende spele wat in Parys, Frankryk gehou gaan word, kan dit seker nie te gou wees om te leer om te sê: “La victoire NWU” nie.

 ........

Die was 'n aand om te onthou vir almal betrokke.

 

Submitted on Mon, 08/30/2021 - 08:36