NWU was die mede-aanbieder van die intree- jaarlikse Moses Kotane-lesing

Die Noordwes-Universiteit (NWU), die Noordwes Provinsiale Regering (NWPR) en die Moses Mauane Kotane-stigting het gesamentlik op 18 November die intree- jaarlikse Moses Kotane-lesing aangebied.

Hierdie jaar se gebeurtenis met die tema: Resetting South Africa’s journey towards recovery and rebuilding, het kundige sprekers, hoogs gerespekteerde hoogwaardigheidsbekleërs* (insluitende die premier van Noordwes) en lede van die gemeenskap ingesluit wat op die Potchefstroomkampus byeengekom het.

Dié belangrike gebeurtenis het hulde gebring aan die nalatenskap van wyle Moses Kotane, wat vanaf 1939 tot met sy dood in 1978 sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty was.

“Dit is ’n geskiedkundige oomblik, aangesien ons almal saam die bydrae tot ons konstitusionele demokrasie deur een van die struggle se staatmakers uit ons provinsie vier,” het prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, tydens sy toespraak gesê.

Hy het gesê Moses Kotane het ’n geweldige bydrae tot die bevryding van Suid-Afrika en die Afrika-vasteland gelewer. “Hy was ’n man wat daarvoor bekend was dat hy op alle gebiede van die lewe onkreukbaar was en wat uitmuntende leierskap getoon het deur van voor af te lei. Hy het die eienskappe gehad van ’n leier wat sy lewe aan vryheid en demokrasie gewy het en sterk morele beginsels bepleit het.”

Prof Tyobeka sê die belangrikste vrae wat gevra moet word terwyl ons die lewe van Moses Kotane herdenk en vier, sluit in wat ons gaan doen om sy nalatenskap en sy droom van ’n vrye Suid-Afrika in stand te hou; hoe Moses Kotane op ons werk sou reageer – oor die algemeen om na die gesteldheid van die armes om te sien; en wat ons anders gaan doen om introspektief te wees en regstellings te maak.

Premier Kaobitsa Bushy Maape het gesê Moses Kotane het die belangrikheid van opvoeding in die najaging van bevryding verstaan en het by die kommunisties-bestuurde aandskool in Ferreirastown ingeskryf, waar hy bekendheid verwerf het vir sy vermoë om die mees komplekse politieke geskrifte te bemeester. “Hy het homself in verskillende letterkundige werke verdiep, wat hom as ’n begeesterde leser gevorm het wat so veel as moontlik boeke in sy vrye tyd gelees het.”

Die premier het gesê dat Moses Kotane een van die vroegste pioniers van ’n nieseksistiese, nierassige, vooruitstrewende demokratiese staat was. “Hy was die voorstander van goeie beheer en etiese leierskap.”

Prof Somadoda Fikeni, voorsitter van die Staatsdienskommissie, het die lesing aangebied en gesê dat om lewe aan die gees van Moses Kotane te gee, ’n reis van verandering onderneem moet word. “Daardie reis van verandering sal nie van ’n leier of ’n handleiding kom nie. Dit sal by jou begin. Morele verval kom wanneer jy sê dat jy vir regulasies wag. Etiek gaan daaroor dat jy ’n standpunt inneem oor wat reg of verkeerd is. Die grootste uitdaging vir ons land is dat diegene wat herstel, hernuwing en heropbou wil sien, so gefragmenteerd, so tentatief in hulle denke, so gedisorganiseer, so mak, so terughoudend is, terwyl diegene wat die status quo aanhang – ongeag hoe sleg dit is – so intens, so uitgesproke, so gefokus, so goed georganiseerd is dat ’n mens begin dink dat dit laasgenoemde is wat met die stem van die gewone mense praat.”

“Dit is daarom dat Madiba in 1997 gesê het dat hierdie land dalk ’n HOP van die siel nodig het, aangesien hy besef dat die HOP van behuising, infrastruktuur en elektrisiteit leeg, nievolhoubaar en betekenisloos is as dit nie met ’n nuwe bewustheid gekomplementeer word nie.”

Prof Kedibone Phago, direkteur van die NWU se Skool vir Owerheidstudies, Solly Mapaila, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, en prof Dirk Kotzé het by die sprekers en hoogwaardigheidsbekleërs aangesluit in ’n paneelbespreking en ’n vraag-en-antwoord-sessie wat deur Clement Manoko, die NWU se direkteur vir Korporatiewe Verhoudings en Bemarking, gefasiliteer is.

*Hoogwaardigheidsbekleërs wat aan die formaliteite deelgeneem het, het ambassadeur Joseph Kotane, voorsitter van die Moses Kotane-stigting, Kgosi Godfrey Gasebone wa Bakwena ba Morare, Motlalepula Rosho, NWPG se LUR vir Finansies, en raadslid Stella Mondlana, speaker van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit, ingesluit.

.....

Prof Bismark Tyobeka, premier Kaoitsa Bushy Maape en ambassadeur Joseph Kotane, voorsitter van die Moses Kotane-stigting en Moses Kotane se seun

Submitted on Mon, 11/21/2022 - 16:45