NWU voeg nog ’n topposisie by sy indrukwekkende prestasie op ranglyste

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het nog ’n topposisie by sy indrukwekkende vertoning op internasionale ranglyste gevoeg. Die ShanghaiRanking Consultancy plaas die NWU in die kategorie vir die top-5 tot top-7 Suid-Afrikaanse universiteite op sy 2023 Academic Ranking of World Universities (ARWU).

Die plasing in die 5- tot 7-kategorie is ’n verbetering op die sewende plek in die land wat ons verlede jaar behaal het.

ARWU plaas die NWU in die internasionale ranglyskategorie 501 tot 600 – ’n noemenswaardige prestasie, aangesien ons in 2022 in die 601- tot 700-kategorie geplaas is.

Die ShanghaiRanking Consultancy het hulle lys op 15 Augustus gepubliseer.

Die NWU het hierdie jaar voortgegaan om ’n verbetering in die vernaamste graderings te toon. Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings, wat op 27 Junie gepubliseer is, het die NWU onder die topsewe Suid-Afrikaanse universiteite op hulle Top Global Universities-ranglys vir 2024 geplaas, nadat ons plaaslik vanaf die agtste posisie af gevorder het. Op hierdie ranglys het die NWU beduidende verbetering in sy internasionale plasing getoon en in die 801 tot 850ste ranglysposisie inbeweeg – ’n verbetering van verlede jaar se plasing van tussen 1 001 en 1 200.

QS het die NWU tiende in Afrika geplaas – vyf posisies beter as verlede jaar se 15de plek.

Die Center for World University Rankings (CWUR) het die NWU in hulle 2023-uitgawe van die Global 2000-lys in die top 4,4% van wêreldwye universiteite geplaas. Dit is ’n verbetering van die top-4,5% op hierdie ranglys van 2022/2023. Die jongste ranglys is op 15 Mei gepubliseer.

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, sê dat ranglyste die noodsaaklike werk erken wat die universiteit doen. Hy het die personeel, studente en ander belanghebbers geloof vir hulle voortgesette ondersteuning deur die universiteit vorentoe te neem. Vir meer inligting oor die jongste ShanghaiRanking-lys, besoek ShanghaiRanking-Universities. Om meer oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste uit te vind, besoek: Rankings | NWU | North-West University.

Meer oor die ARWU-ranglys

ARWU gebruik ses objektiewe aanwysers om die wêrelduniversiteite te gradeer. Dit is: die getal alumni wat Nobel-pryse en Fields-medaljes wen (10%); die getal personeellede wat Nobel-pryse en Fields-medaljes wen (20%); die getal navorsers wat die meeste in 21 breë vakkategorieë aangehaal is (20%); die getal referate wat in die Nature and Science opgeneem is (20%); die getal referate wat in die Science Citation Index-expanded and Social Sciences Citation Index opgeneem word (20%); en die per capita akademiese prestasie van die instelling (10%).

Hulle bestudeer jaarliks meer as 2 500 internasionale universiteite en publiseer die beste 1 000.

Submitted on Fri, 08/18/2023 - 09:21