NWU vier uitstekende SAIGR-uitslae

Willie Du Plessis

Met die uitstekende uitslae in die jongste eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) het die Noordwes-Universiteit (NWU) weer eens getoon dat hy onder die beste van die bestes vir gehalte-onderrig in rekeningkunde tel.  

Die uitslae is op 25 Maart 2022 vrygestel. NWU-studente het in Januarie 2022 ’n 99%-slaagsyfer (76 uit 77 kandidate) behaal in die SAIGR se eksamen vir kandidate wat vir die eerste keer die Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ITC) geskryf het, en ’n 100%-slaagsyfer (11 uit 11 kandidate) in die Namibiese instituut (ICAN) se eksamen.  

Prof Nico van der Merwe, koördinerende programleier vir Geoktrooieerde Rekenmeesterskap in die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe, sê dit is ’n uitstekende prestasie as ’n mens daaraan dink dat die gemiddelde slaagsyfer vir die land vir alle kandidate wat vir die eerste keer geskryf het 78% is.

“Ek wil graag al ons gegradueerdes gelukwens wat hierdie uitdagende eksamen suksesvol geslaag het. Ons studente het selfs onder uiters moeilike omstandighede regdeur die Covid-19-pandemie vasgebyt, en ek is so bly dat hulle nou die vrugte van hulle harde werk kan pluk.”

Drie NWU-kandidate het met onderskeiding geslaag – nog ’n uitstekende vertoning, aangesien slegs 29 kandidate in die hele land met onderskeiding geslaag het. Dit is merkwaardig as ’n mens in ag neem dat meer as 2 000 studente die eksamen geskryf het.

Vier van die vyf top-ICAN-kandidate was van die NWU. Een van hierdie kandidate het ook met onderskeiding geslaag.

Prof Nico het afgesluit dat hy baie dankbaar is vir die uitstekende span dosente wat geen moeite ontsien het om te verseker dat onderrig en leer onder die uitdagende Covid-19-omstandighede kon voortgaan nie.

Die universiteit het deur die jare konstant uitstekende uitslae in die SAIGR-eksamen opgelewer, en die jongste uitslae bevestig dat hierdie strek van uitnemendheid steeds voortgaan.

Submitted on Thu, 03/31/2022 - 08:45