NWU verwelkom gebaretaal in Suid-Afrika se familie van amptelike tale

Dit moes al lankal gebeur het, maar op Woensdag 19 Julie het Cyril Ramaphosa, die Suid-Afrikaanse president, Suid-Afrikaanse Gebaretaal as Suid-Afrika se 12de amptelike taal erken.

Dit maak Suid-Afrika slegs die vierde land in Afrika om gebaretaal as ’n amptelike taal te erken, en volgens dr Keaobaka Seshoka, direkteur van die Taaldirektoraat by die Noordwes-Universiteit (NWU), is dit ’n bietjie laat, maar ’n baie welkome toevoeging tot die land se familie van amptelike tale.

“Die toevoeging van gebaretaal as een van Suid-Afrika se amptelike tale moes al lankal plaasgevind het. Daar was ’n behoefte in Suid-Afrika, en ek dink ons moet met erns seker maak dat ons ten opsigte van taalsake so inklusief as moontlik is. Die NWU is ’n meertalige instelling, en meertaligheid beteken dat ons inklusief is. Dit beteken ook dat ons die hulpbronne moet hê om vir al ons taalbehoeftes voorsiening te maak, en dit sluit dié van Suid-Afrikaanse Gebaretaal in. Dit is dus met groot erns dat ons seker maak dat ons doen wat ons sê,” sê Seshoka.

“Ons as Suid-Afrikaners moet saam ’n poging aanwend om gebaretaal te leer sodat ons in gebaretaal kan kommunikeer en almal by al ons byeenkomste en gebeurtenisse ingesluit voel deurdat ons seker maak dat gebaretaal daar ’n rol speel.”

Sy het ook namens die NWU en die Taaldirektoraat haar dankbaarheid uitgespreek vir die amptelike insluiting van gebaretaal.

“Dit gee my groot vreugde om Suid-Afrikaanse Gebaretaal as deel van Suid-Afrika se amptelike taalfamilie te verwelkom. Die waarde wat julle by die lewens van ons dowe gemeenskap voeg, kan nie oorbeklemtoon word nie, en dit is noodsaaklik dat ons as samelewing voortgaan om meer maniere te vind om dinge toeganklik te maak en die lewensgehalte van elke burger van ons pragtige land te bevorder. By die Taaldirektoraat is dit ons doel, missie en – die heel vernaamste – ons gekoesterde verantwoordelikheid om ons nasionale tale te bevorder en die beste moontlike ervaring vir ons NWU-gemeenskap moontlik te maak. Ek is trots om te sê dat die NWU van gebaretaaltolke gebruik maak te midde van ’n magdom ander tolking- en vertalingshulpmiddels, en ons sal voortgaan om ons eie vermoëns te bevorder om die horisonne van elke student by die NWU te verbreed,” sê Seshoka.

....

Dr Keaobaka Seshoka

Welkom aan Suid-Afrika se 12de amptelike taal. Dit begin alles hier.

Submitted on Thu, 08/10/2023 - 09:55