NWU Vanderbijlpark: Welkom Eerstejaars!

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs meer as 1 500 nuwe eerstejaars in hulle midde verwelkom.

Op Saterdag 3 Februarie is die nuwe groep eerstejaarstudente en hulle ouers tydens die 2018 Verwelkomingsdag amptelik by die NWU-familie ingelyf. Die Verwelkomingsdag – soos dit deur die Departement vir Studentelewe gekoördineer word – word jaarliks aangebied en dien as ’n belangrike kommunikasieplatform tussen die nuwe eerstejaarstudente, hulle ouers en lede van die universiteitsgemeenskap.

Die program van die dag het verskeie sprekers betrek, insluitende prof Dan Kgwadi, visekanselier, prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir die Vanderbijlparkkampus, prof Lumkile Lalendle, uitvoerende direkteur vir studentelewe, en Thokozani Hadebe, voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad.

Onafskeidbaar deel van ’n geïntegreerde NWU

In sy toespraak het die visekanselier gesê dat die NWU deur die universiteit se nuwe unitêre model in gelyke dele aan al sy studente behoort. “Die oomblik toe jy by die NWU ingeskryf is, het jy ’n gelyke vennoot geword,” sê prof Kgwadi, en voeg by dat geen student ooit moet voel dat hulle bloot geakkommodeer word nie. Alle studente moet voel dat hulle ’n onafskeidbare deel van ’n geïntegreerde Noordwes-Universiteit is.

“As geregistreerde studente het julle nou ’n bindende kontrak met die universiteit gesluit, wat beteken dat julle mede-eienaarskap kan geniet, en soos dit die geval met enige kontrak is, moet albei partye aan die gestelde verwagtings voldoen,” sê prof Kgwadi. Hierdie “verwagtings” sluit die NWU se verbintenis tot ’n veilige leeromgewing, asook die voorsiening van gehalte-onderrig in. Aan die kant van die studente is die verwagting dat elke student die geleenthede wat aan hulle gebied word (akademies en sosiaal) ten beste sal benut, en binne die voorgeskrewe tyd gradueer.

Prof Kwadi, as die “moeder-ter-plaatse” vir alle studente, het ouers en voogde verseker dat die welsyn van elke student ’n topprioriteit vir alle lede van die verskillende bestuurstrukture is – insluitende dié van die verkose studenteleierskap.

Ter afsluiting het prof Kgwadi gesê: “Julle is nou deel van ons trotse en uiters gesogte universiteitsfamilie – ’n familie wat bekend is vir sy onderskeidende talent en uitnemendheid, studentegesentreerde fokus en ongeëwenaarde ondersteuning.”

 

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs die nuwe groep eerstejaarstudente en hulle ouers tydens die 2018 Verwelkomingsdag amptelik by die NWU-familie ingelyf.

Submitted on Mon, 02/26/2018 - 11:30