NWU Vanderbijlpark presteer goed in Peregrine-liga

Daar word gesê dat sweet plus opoffering gelyk is aan sukses. Wanneer ’n mens na die telkaart van die afgelope naweek kyk, lyk dit asof die rugbyspanne van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark daarmee saamstem.

Die kampus het die geskiedenisboeke herskryf toe hulle hul aartsvyande, Brakpan, in die Valke se Peregrine-liga met 23-10 verslaan het. Dit was die kampus se eerste oorwinning oor hulle nemesis sedert 2012. Om skande by skade te voeg, het die NWU Vanderbijlpark se tweede span sowel as die onder 21-span hulle wedstryde teen Brakpan met onderskeidelik 27-14 en 43-5 gewen. Al die wedstryde is in Vanderbijlpark gespeel.

Volgens Lukas van der Schyff, hoofafrigter van die NWU Vanderbijlpark se eerste span, het die studente die vaste spel gedomineer. “Ons het nie al die geleenthede benut om die telbord te laat aanhou rol nie, maar ek is tevrede met die span se spel van die dag,” sê Lukas. Hy voeg by dat die span se gees op ’n hoogtepunt is en voorspel dat die span baie gou sy volle potensiaal sal bereik.

Die onderskeie toekennings vir Speler van die Wedstryd het aan Hardus Scott, JP Storm en AJ Pretorius gegaan.

NWU Vanderbijlpark se Rico Klopper systap Brakpan se verdedigers Foto: Ettienne van Rensburg

 

 

 

Submitted on Mon, 05/07/2018 - 10:29