NWU stel nuwe hoof en visekanselier aan

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots om die aanstelling van alumnus dr Bismark Tyobeka as sy nuwe hoof en visekanselier aan te kondig.

Dr Tyobeka, wat as een van die voorste kernkragkundiges in die wêreld erken word, sal vanaf 1 Junie 2022 vir die volgende vyf jaar aan die stuur van die NWU wees. Hy volg in die voetspore van prof Dan Kgwadi, wat die diens van die NWU aan die einde van Januarie 2022 verlaat het.

Die aanstelling is op 17 Maart 2022 bevestig nadat die Raad ’n uitstekende groep aansoekers oorweeg het. “Ons glo dat dr Tyobeka, ’n ervare voorstander van beheer, die ideale kandidaat is om die NWU na nuwe sukses te lei,” het mnr Bert Sorgdrager, waarnemende voorsitter van die Raad, gesê.

Dr Tyobeka het ’n lang en vrugbare verbintenis met sy alma mater gehad sedert hy sy studies in die 90’s aan die voormalige Universiteit van Noordwes begin het.

Hy was sedert November 2014 ’n lid van die NWU Raad. Dr Tyobeka is in 2017 tot die vyfde voorsitter van die NWU Raad verkies en is in November 2020 vir ’n tweede termyn heraangestel.

As lid van die NWU Raad het hy met sukses toesig gehou oor die herstrukturering van die NWU tot ’n unitêre model om institusionele transformasie te versnel.

Dr Tyobeka is in 2013 met ’n NWU-alumnitoekenning vir uitnemendheid vereer vir sy persoonlike en loopbaanprestasies, veral vir sy beduidende bydrae tot kernwetenskap regoor die wêreld.

Roemryke loopbaan in wetenskap

Dr Tyobeka beklee sedert 2013 die posisie van HUB van die Nasionale Kernkragreguleerder van Suid-Afrika en speel ’n belangrike rol in verskeie inisiatiewe van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA).

Ten spyte van sy internasionale bekendheid – hy dien onder andere in die IAEA se internasionale advieskomitees oor kernveiligheid (INSAG) en is die visevoorsitter van die internasionale samewerkingsforum vir die regulering van kernkrag (RCF), en dien as die visevoorsitter van die forum vir kernkragreguleringsliggame in Afrika (FNRBA) – het hy nie sy wortels vergeet nie. Hy het ook sterk kontak behou met die universiteit en met talle van die universiteit se voormalige studente, wat nou in verskillende velde – insluitend die kernkragbedryf in Suid-Afrika – werk.

Dr Tyobeka is ’n ywerige student en wetenskaplike, en het die grade BSc (Ed) (1999) en MSc (2001) aan die voormalige Universiteit van Noordwes, en in 2004 nog ’n meestersgraad in Kerningenieurswese aan die Penn State Universiteit in die VSA behaal.

In 2005 het hy ’n meestersgraad in Projekbestuur aan die Colorado Tegniese Universiteit in die VSA behaal, en in 2007 sy PhD in Kerningenieurswese aan die Penn State Universiteit.

Vanaf 2000 tot 2002 het hy as senior reaktorfisikus by Eskom gewerk. Vanaf 2002 tot 2007 het hy dieselfde pos aan die Penn State Universiteit beklee. Voor sy aanstelling as HUB by die Nasionale Kernkragreguleerder van Suid-Afrika in 2013, het dr Tyobeka as kerningenieur by die Internasionale Atoomenergieagentskap in Oostenryk gewerk.

Dr Tyobeka is die skrywer en medeskrywer van verskeie akademiese artikels en het al regoor die wêreld gereis om referate by internasionale konferensies aan te bied.

Mnr Sorgdrager het afgesluit deur dr Tyobeka namens die Raad met sy aanstelling geluk te wens en aangedui dat die Raad uitsien na hierdie nuwe hoofstuk in die NWU se geskiedenis wat met hom aan die stuur ingelui word.

Besonderhede oor dr Tyobeka se inhuldiging as hoof en visekanselier sal binnekort aangekondig word.

Vrygestel deur Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking

Navrae: Louis Jacobs, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie
082 901 6435

 

Submitted on Fri, 03/18/2022 - 07:54