NWU stel nuwe digitale stratetegiebeampte aan

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n spesialis in inligtingstegnologiebeheer (IT-beheer), risiko en besigheidsbetrokkenheid as die universiteit se digitale strategiebeampte aangestel.  

Andile Swartbooi sal vanaf 1 Mei 2022 in hierdie kapasiteit dien.

Sy verantwoordelikhede sluit die uitvoering van die NWU se digitale strategie in en gaan op die vier pilare daarvan fokus: intensionele ervaring; bedryfsdoeltreffendheid; besigheidsmodelveranderings en bemagtigingselemente.

Andile het tydens sy loopbaan senior IT-poste in die sektore van onder andere finansiële dienste, lugvaart en hoër onderwys beklee. Voor sy aanstelling by die NWU was hy die uitvoerende hoof vir IT-beheer, risiko en besigheidsbetrokkenheid by die nuutgestigte tegnologie-eenheid van die Sanlam Groep. Hy het in sy loopbaan ook poste by Sanlam Persoonlike Finansies en die Sanlam Groep se kleinhandelafdeling beklee.

Hy het ’n sterk verbintenis met die hoëronderwyssektor deur sy rol as hoofinligtingsbeampte by die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van die Witwatersrand.

Andile was die hoofinligtingsbeampte vir Lugverkeer-navigasiedienste en die SA Express-lugdiens.  Hy was ook die hoofbestuurder vir sagtewaretoepassings by ABSA Groep Tegnologie en ’n IT-direkteur in die Standard Bank-groep.

Hy het ’n BSc-graad in Rekenaarwetenskap en Meesterinligting, het die Bestuursontwikkelingsprogram (BOP) voltooi, en het ’n MPhil in Kennisbestuur. Andile het ook uitvoerende ontwikkelingsprogramme voltooi.

Volgens hom is digitale transformasie en digitale bemagtiging die sleutelpilare wat universiteite help om hulle strategiese doelwitte te bereik terwyl hulle aan die eise van hulle uiteenlopende belanghebbers voldoen, en selfs meer nog aan dié van die studentegemeenskap, wat baie vaardig is met die gebruik van tegnologie.

Die adjunk-visekanselier verantwoordelik vir IT, prof Daryl Balia, verwag om as gevolg van Andile se aanstelling die implementering van die digitale besigheidstrategie te versnel, en moedig alle personeel en studente aan om saam te werk om die volle voordeel van die NWU se oorgang na ’n digitale toekoms te verkry. 

Andile Swartbooi

Andile Swartbooi

Submitted on Tue, 04/26/2022 - 14:20