NWU Slimstasie help gemeenskap om weerslim te wees

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ‘n moderne waarnemingstasie geloods wat die weer sowel as die luggehalte sal moniteer.

Dié multimiljoenrandontwikkeling is op die universiteit se kampus in Vanderbijlpark geleë, en die NWU is dus die eerste hoëronderwysinstelling in die land wat met ‘n permanente moniteringstasie spog.

Die projek is die breinkind van die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe en die slimstasie sal daartoe bydra dat die plaaslike gemeenskap weerslim word.

Slimstasie spreek vaardigheidstekort aan

Volgens Emile Hoffmann, ’n dosent en navorser in die vakgroep Geografie en Omgewingstudies, sal hierdie waarnemingstasie ’n bydrae tot die hantering van die uiterste gebrek aan vaardighede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM-vaardighede) in die land lewer.

“Die stasie sal nie net help om die getal STEM-gegradueerdes van die universiteit te laat toeneem nie, maar dit sal ook die NWU se vermoë versterk om relevante navorsing met ’n impak op die gebied van omgewingstudie uit te voer,” sê prof Eno Ebenzo, uitvoerende dekaan van die fakulteit.

Navorsingsbaken in die Vanderbijlpark

Wat die projek selfs meer noemenswaardig maak, is die posisionering daarvan in die Vanderbijlparkstreek.

Die kampus is op die walle van die Vaalrivier geleë – een van Suid-Afrika se mees besoedelde waterbronne – en is reg in die middel van ’n lugbesoedeling-prioriteitsarea (APPA). Dit is die perfekte ligging vir ’n waarnemingstasie soos hierdie.

“Wat aspekte soos luggehalte en lugbesoedeling betref, is areas binne die streek – insluitende Emfuleni, Midvaal, Doornkop, Soweto, Diepkloof, Ennerdale, Orange Farm en Metsimaholo – bekend vir hulle omgewingsprobleme,” sê Emile.

“Die stasie sal navorsers in staat stel om harde data in te samel en deurlopende metings te doen om intervensieprogramme te ondersteun en verdere wetenskaplike ondersoeke aan te moedig.”

Die span wat die waarnemingstasieprojek hanteer, werk saam met kundiges by die SAWD om optimale tegniese presisie te verseker wat intydse moniteringstelsels betref.

Hierdie stelsels sal nie net meteorologiese parameters soos reënval, lugtemperatuur, windspoed en windrigtings dek nie, maar ook geselekteerde prioriteitsparameters vir die karakterisering van die luggehalte gebaseer op lugbesoedelingsbronne daar naby. Soos die projek vorder, sal ander faktore soos die watervlak en -gehalte van die Vaalrivier ook gemoniteer word.

Die voordelige langtermynvennootskap tussen die NWU en die SAWD sal ook die volgende ontwikkelings sien vorm aanneem:

  • Geleenthede vir studente om hulle praktiese ervaring by die SAWD as ’n toekomstige werkgewer uit te voer.
  • Die inisiëring van nagraadse navorsingsprojekte oor verwante onderwerpe wat volgens toegepaste navorsingsbehoeftes uitgevoer word met die SAWD as medetoesighouer en medeselekteerder daarvan. 
  • Internasionale samewerking tussen Suid-Afrikaanse waarnemingsnetwerke en gevestigde wêreldwye netwerke.

Volgens prof Stuart Piketh, direkteur van die Skool vir Geo- en Ruimtelikewetenskappe, bevorder hierdie moniteringstasie ook die universiteit se beweegrede wat gefokusde gemeenskapsbetrokkenheid betref deur die verskeie plaaslike gemeenskappe te bemagtig om meer weerslim te word.

Data vir die deel van kennis

Volgens Emile sal ’n ondersteunende slimfoonapp, SAAQIS*, verder tot die impak van die stasie sal bydra, aangesien dit gebruikers in staat sal stel om toegang tot omgewingsmoniteringsdata met die blote druk van ’n knoppie te kry.

Die vooruitsig is dat die stasie deel sal word van die globale netwerk van moniteringstasies deur aan die standaarde van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie te voldoen. Volgens Emile sal dit NWU-navorsers in staat stel om data wat ingesamel is nie net met die algemene publiek te deel nie, maar ook met die internasionale wetenskapgemeenskap.

Mnr Mnikeli Ndabambi, uitvoerende beampte vir infrastruktuur en inligtingstelsels by die SAWD, verwelkom die toekomstige samewerking met die NWU.

* Die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel-app (SAAQIS-app) kan gratis van die Google Play Store afgelaai word en is met alle slimfoontoestelle versoenbaar. Vir meer inligting besoek http://www.saaqis.org.za/About.aspx

 
Die stasie is amptelik geopen deur Warren Carter, prof Eno Ebenzo, prof Linda du Plessis en Absolom Mfumadi.
  Van die hooggeplaasde gaste wat die opening bygewoon het, is van links Emile Hoffmann, Warren Carter, Absolom Mfumadi, prof Eno Ebenso, prof David Modise, prof Thebe Medupe, prof Linda du Plessis, prof Lobina Palamuleni, Hannelee Doubell, Nomvuzo Busizi en Desmond Mabaso.
Submitted on Tue, 12/03/2019 - 09:00