NWU sit sy indrukwekkende prestasie op ranglys voort

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het sy plek onder die room van die oes van die plaaslike en internasionale universiteite op verskeie wêreldwye ranglyste van 2021 bevestig en sit hierdie jaar sy indrukwekkende prestasie op die ranglyste voort.

Times Higher Education (THE) Young University Rankings het die NWU algeheel derde in Suid-Afrika en 124ste internasionaal op sy ranglys van die wêreld se beste universiteite van 50 jaar oud en jonger geplaas. Die NWU was in 2021 ook oorkoepelend derde in Suid-Afrika op hierdie ranglys.

Die 2022-lys is op 15 Februarie gepubliseer. Dit is die derde keer dat die NWU op hierdie bepaalde ranglys verskyn.  

Die Young University Rankings sluit universiteite van verskillende lande in en gebruik 13 prestasie-aanwysers om hulle te evalueer. Hierdie prestasie-aanwysers word in vyf areas gegroepeer: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag). Die gewigstoekennings word vanaf die THE se ander ranglyste herbereken om die profiel en missie van jong universiteite te weerspieël.

Vir meer inligting oor die THE Young University Rankings, besoek www.timeshighereducation.com.

Die THE Young University Rankings volg kort op die hakke van ’n nuwe ranglys deur die Informatics Institute by die Midde-Oosterse Tegniese Universiteit in Turkye. Hierdie ranglys, die University Ranking by Academic Performance (URAP), is op 2 Februarie 2022 gepubliseer.

Die URAP-ranglysstelsel fokus op akademiese gehalte en gebruik veelvuldige kriteria wat op akademiese prestasie fokus om ’n spesifieke universiteit se plek op die ranglys te bepaal.

Hulle plaas die NWU onder die top-sewe plaaslike universiteite en wêreldwyd in die 886ste plek.  

Vir meer inligting, besoek: https://urapcenter.org.

Submitted on Wed, 02/16/2022 - 14:43