NWU se visekanselier spreek joernaliste by die Nasionale Persklub se post-covid herbekendstelling toe

Die Nasionale Persklub (NPK) het op Donderdag 3 November sy post-Covid-19-herbekendstelling by die ikoniese Pretoriase Nasionale Botaniese Tuin gehou. Lede van die NPK sluit nuusjoernaliste, akademici, entrepreneurs en lede van die samelewing in. Besluitnemers en intellektuele wat die Suid-Afrikaanse diskoers bevorder, is ook lede.

Sprekers het die Noordwes-Universiteit (NWU) se hoof en visekanselier, dr Bismark Tyobeka, wat die hoofrede gelewer het, asook die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Kodwa, en Antoinette Slabbert, die voorsitter van die NPK, en die ondervoorsitter van die NPK, Willem van de Putte, ingesluit.

Dr Tyobeka het ’n reeks onderwerpe aangeraak, soos die blootlegging van staatskaping en die mediabedryf se rol tydens die pandemie. Hy het die noodsaaklike rol beklemtoon wat die pers tydens apartheid gespeel het en die demokratiese Suid-Afrika se verskuldigdheid aan die joernalistieke beroep uiteengesit.

“Die onderdrukkende regime het tydens apartheid deurgaans deur middel van onderdrukkende wette en geheime aktiwiteite joernaliste geteister en onderdruk en vrees by hulle ingeboesem. Die media en joernaliste verdien lof dat hulle artikel 16 van die Suid-Afrikaanse Grondwet ondersteun, wat beskerming vir die pers en verwante vryhede waarborg. Wêreldpersvryheidsdag is die gevolg van die pogings van Suid-Afrikaanse joernaliste en hulle kollegas op die vasteland,” het hy gesê.

Mediaspesialiste kan op Wêreldpersvryheidsdag oor persvryheid en professionele etiek besin, het hy bygevoeg, met regerings regoor die wêreld wat daaraan herinner word om hulle onderneming gestand te doen om persvryheid te verseker. Hy het die media ook aangemoedig om oor hulle werk na te dink en te verseker dat akkurate en geloofwaardige nuus aan inwoners van die land gelewer word om hulle te help om ingeligte besluite te neem. Hy het beklemtoon dat, soos by talle ander beroepe, opleiding in joernalistiek by die oproepe vir die Afrikanisering of dekolonisasie van die kurrikulum moet aanpas.

“Ons moet seker maak dat die studente die belangrike rol verstaan wat joernalistiek tydens die koloniale en apartheidstydperke gespeel het. Die rol wat gespeel is deur invloedryke persone wat ek vroeër genoem het, moet nooit van die studente weggehou word ten einde nuwe media te kan benut nie. Benewens dat ons studente oor joernaliste en skrywers op die Afrika-vasteland moet leer, moet hulle oor joernaliste en skrywers van die Afrika-diaspora leer.”

Dr Tyobeka het gepraat oor die NWU se langdurige verhouding en affiliasie met die NPK, en dat talle van die universiteit se alumni in die verlede Joernalis van die Jaar-toekennings ontvang het. Hy het voorts die hoop uitgespreek dat die wedersyds voordelige verhouding tussen de NWU en die NPK sal aanhou groei en selfs meer gedug sal raak.

Die NPK se voorsitter, Antoinette Slabbert, het gesê, “Ons doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om homself vir ’n gereelde vraag-en-antwoord-sessie met joernaliste beskikbaar te stel. As ’n pyplyn van inligting tussen nuusmakers en die mense van Suid-Afrika met die taak om ons mede-Suid-Afrikaners in te lig en op te voed oor wydverspreide kwessies wat hulle lewens raak, glo ons dat dit eenvoudig net nie goed genoeg is om bloot mee gepraat te word nie. Ons dring dus daarop aan dat die president van die land homself beskikbaar stel vir betekenisvolle betrokkenheid deur sulke sessies met die media te hou en deur ons met die mense van Suid-Afrika te praat.”

Die oproep het wydverspreide ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, die Parlementêre Persgaleryvereniging, die vereniging vir buitelandse korrespondente, die vereniging vir onafhanklike uitgewers en Landbouskrywers Suid-Afrika ontvang.

In sy boodskap van ondersteuning het Zizi Kodwa, adjunkminister van Staatsveiligheid, joernaliste aangemoedig om voort te gaan om in hulle werk uit te blink en om die regte vrae te stel.

Verskeie organisasies het merietetoekennings vir hulle uitmuntende bydraes tot die joernalistieke bedryf ontvang. Dit het die Bhekisisa-sentrum vir gesondheidsjoernalistiek vir sy dekking van die Covid-19-pandemie ingesluit, en die News24-ondersoekspan vir sy onthulling van wydverspreide korrupsie in die staatsektor, veral die sluipmoord op Babita Deokaran.

Die NWU, wat ’n vername borg van die herbekendstellingsgeleentheid was, het ’n toekenning van erkenning van die NPK ontvang ter erkenning van sy deurlopende ondersteuning van en affiliasie met die organisasie.

...

 Voorsitter van die Nasionale Persklub Antoinette Slabbert en NWU hoof en visekanselier dr Bismark Tyobeka

Submitted on Thu, 11/10/2022 - 14:35