Studentesake is ’n belangrike deel van hoër onderwys en die werk wat vakkundiges op hierdie gebied doen, is ’n noodsaaklike katalisator om ’n lewenslange, holistiese ontwikkeling van studente aan die gang te kry.
Een van die mees gesaghebbende platforms op die wêreldwye verhoog van studentesake is die Journal of Student Affairs Research and Practice (JSARP), en dit word as ’n groot eer beskou om op sy redaksie te dien. Die uitvoerende direkteur van Studentelewe aan die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Sibusiso Chalufu, is gekies om te dien op die redaksie van die JSARP, wat deur die National Association of Student Personnel Administrators (NASPA) in die Verenigde State van Amerika gepubliseer word.
Prof Chalufu sê hy beskou hierdie aanstelling as ’n groot eer, veral aangesien die NASPA meer as 13 000 lede in 2 100 instellings het en by die International Association of Student Affairs and Services (IASAS) geaffilieer is.
Hy sal vanaf 2024 tot 2027 in hierdie kapasiteit op die redaksie dien. Prof Chalufu se verantwoordelikhede op die redaksie sluit in dat hy voorleggings en manuskripte moet nagaan, en advies oor inhoud en metodologiese sake gee.
Dit is ’n wonderlike geleentheid om so ’n belangrike rol te speel en te verseker dat gerespekteerde navorsing en praktyke vertoon word en dat dit ’n verskil op die gebied van studentesake en -dienste sal maak,” sê prof Chalufu.
Om uit al die aansoeke vir die redaksie van die JSARP gekies te word, het vir hom ’n spesiale betekenis, veral op ’n professionele vlak. “Ek beskou dit as een van die hoogste toekennings en erkenning vir die werk wat ek op die gebied van studentesake en -dienste oor die afgelope 20 jaar of so gedoen het. Dit beteken vir my baie op professionele gebied, aangesien dit my ook in staat stel om met ’n spektrum van gerekende kollegas op hierdie gebied saam te werk.”
Prof Chalufu sê dit is nie net ’n individuele prestasie nie. Hy beskou dit ook as ’n prestasie vir die subsektor van studentesake en dienste, asook die NWU. Prof Chalufu is aan die voorpunt van die plaaslike sektor en is tans die voorsitter van die South African Association of Senior Student Affairs Professionals (SAASSAP). Om op die redaksie van die JSARP te dien, bevorder sy kundigheid in hierdie verband. “Dit is ook ’n bewys dat die NWU as instelling ’n bydrae op die wêreldverhoog lewer.”
Hy beskou dit as deel van sy roeping op persoonlike vlak. “As gelowige het ek die gevoel dat God sy lig op my laat skyn en my met ’n doel al hoër lig.”
Uitvoerende direkteur is die medeskrywer van ’n referaat oor verenigings vir studentesake
Prof Chalufu is geen vreemdeling wat betref skryfwerk wat ’n impak maak nie. Hy was in 2022, saam met sy kollega by die NWU, dr Corrie Rheeder, die medeskrywer van ’n artikel getiteld “Student affairs and services leadership in trying times: Student social behaviour project and psycho-social support interventions at a comprehensive university in South Africa”. Hy was ook onlangs as leierskrywer die medeskrywer van ’n referaat wat perspektiewe oor studentesakeverenigings uit die Afrika-streek verskaf het. Hy het die werk gekoördineer en met kollegas van ander universiteite, naamlik prof Matete Madiba, dr Saloschini Pillay en dr Matome Mashiapata, saamgewerk.
Die referaat ondersoek die manier waarop Suid-Afrikaanse studentesakeverenigings hulle strategie in ’n Suider-Afrikaanse federasie laat saamsmelt en hoe dit hulle impak op studente-ondersteuning en -ontwikkeling versterk. Die referaat gee ook perspektiewe oor pan-Afrika-ontwikkelings om hoër onderwys te versterk en onthul voorts ambisieuse planne om studente-ondersteuning in hoër onderwys in Afrika te ondersteun met pogings wat deur die Association of African Universities gedryf word.
“Ons referaat beklemtoon dat professionele verenigings regoor Suider-Afrika ’n kritieke rol in die bevordering van professionalisasie in die teorie en praktyk van studentesake speel,” sê prof Chalufu.
Die skrywers stel dit dat daar kontinentale pogings is om die professie verder te versterk. “In die lig van die verspreiding van e-tegnologie vir onderwys, gaan die toenemende beskikbaarheid en bekostigbaarheid waarskynlik die bevordering van die professionele ontwikkeling van studentesake en -dienste in Afrika uitbrei.”
Om die hele referaat te lees, klik hier: https://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1002/ss.20478.
Prof Sibusiso Chalufu