NWU se Optentia spring met ’n vaart weg

Met die akademiese jaar in volle swang, is die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia-navorsingsfokusarea besig om met ’n vaart weg te spring.

Navorsers, professionele persone, lede van die akademie en nagraadse studente kan daarna uitsien om by ’n opleidingsprogram volgepak met ’n aantal werkswinkels, intreelesings en Stats Camp Suid-Afrika te baat.

Die opleidingsprogram – wat in Januarie begin het – sluit ’n aantal kortleerprogramme, werkswinkels en spesiale lesings in. Van die temas van die werkswinkels sluit die etiekaansoekproses, die Mmogo-metode, onsekerheid, die bekwaamheidsbenadering, en positiewesielkunde-intervensie-ontwerp in.

Naderende gebeure

  • 30 Maart – 3 April: Werkswinkel oor visuele ontlokkingsmetodes

Die werkswinkel sal deur prof Linda Liebenberg aangebied word en sal op die gebruik van visuele ontlokkingsmetodes in kwalitatiewe navorsing fokus. Visuele ontlokkingsmetodes kan beskryf word as die gebruik van meganismes, strategieë en instrumente om die besinning van deelnemers oor navorsingsonderwerpe aan te moedig en lewendige vertellings van deurleefde ervarings te fasiliteer. Hierdie navorsingsmetode word regoor veelvuldige dissiplines gebruik, insluitende opvoedkundige sielkunde, sielkunde, maatskaplike werk, sosiologie en antropologie, verpleegkunde en ander gesondheidsprofessies.

  • 30 Maart – 3 April: Hoe om jou voorlegging afgekeur te kry

Prof Linda Liebenberg sal tydens hierdie werkswinkel op suksesvolle navorsingspublikasies fokus, en sy sal vir deelnemers praktiese riglyne oor geslaagde skryfwerk gee.

  • 27 April – 1 Mei: Stats Camp Suid-Afrika

Stats Camp Suid-Afrika

Die ontledingswegbreekgeleentheid, wat oor vier dae plaasvind, word in die laaste week van April 2020 gehou en die doel daarvan is om die analitiese vaardighede in sosiale en sielkundige navorsing op voorgraadse en nagraadse vlak te bevorder. Optentia gaan hierdie jaar met twee internasionale kundiges oor statistiese ontleding, prof Todd D Little en prof Rens van de Schoot, saamwerk om die wegbreekgeleentheid aan te bied.

Hierdie gebeurtenis sal voorts kundiges uit ’n wye verskeidenheid statistiese en metodologiese dissiplines bymekaarbring om navorsers te help om enige probleme wat hulle met hulle navorsingsprojekte kan hê, te help oplos. Volgens prof Ian Rothmann, die navorsingsdirekteur by Optentia, vorm die instrukteurs en onderrigassistente ’n samewerkingsnetwerk wat navorsers met die navorsingsproses help.

“Stats Camp-ontledingswegbreekgeleenthede is uiters relevant vir huidige tendense en praktyke in moderne gevorderde statistiese ontleding,” verduidelik prof Rothmann, en voeg by dat hulle navorsers in staat stel om direkte praktiese onderrig te ontvang wat praktiese waarde het.

Besoek Stats Camp Suid-Afrika se webwerf vir meer inligting.

 

 

Submitted on Wed, 02/19/2020 - 12:56