NWU se Olimpiese spoedvrate in die kollig

Die Noordwes-Universiteit se drie Olimpiese spoedvrate, Chederick van Wyk, Zakhiti Nene en Pieter Conradie, is vandeesweek in Tokio se kollig wanneer die aflositems skuins voor die naweek afskop.

Van Wyk, wat aan die 4 X 100 m-item deelneem, sal Donderdag 5 Augustus in aksie wees, met Conradie en Nene wat Vrydag 6 Augustus hulle staal in die 4 X 400 m gaan wys.

Nene het onlangs vyfde in die 400 m-uitdunne geëindig en kon ongelukkig nie vir die eindrondte kwalifiseer nie. Hy sal daarvoor wil opmaak. Die 23-jarige Nene, wat in Ladysmith gebore is, is die huidige Suid-Afrikaanse 400 m-kampioen.    

Die 26-jarige Conradie spog met ʼn hele paar aflosmedaljes. In 2011 het hy goud by die Statebond Jeugspele in Isle of Man gewen (4 X 100 m), in 2013 het hy brons by die Universiade in Rusland ingepalm (4 X 400 m), en in 2018 was silwer syne by die Afrikakampioenskap in Nigerië (4 X 400 m).

Van Wyk sal ook die meeste van sy Olimpiese geleentheid wil maak. Die 26-jarige boorling van Prieska is ’n baie rustige kêrel en dié koelkopkarakter sal nie toelaat die oomblik hom oorweldig nie.

 

 

Submitted on Wed, 08/04/2021 - 10:57