NWU se Ikateleng-projek vier 30 jaar van impak

Dertig jaar ná die stigting van die Ikateleng-projek het die Noordwes-Universiteit (NWU) deur middel van aanvullende onderwys steeds ’n impak op die lewens van duisende leerders regoor sentraal-Suid-Afrika.

Die doel van die jare lange Ikateleng-projek – wat in 1988 in die Vanderbijlpark geïnisieer is – is om aanvullende onderrig aan graad 10-, 11- en 12-leerders te gee en daardeur nie net hulle oorkoepelende eksamenuitslae te verbeter nie, maar ook om lewensbelangrike lewensvaardighede aan hulle oor te dra. Die kern van die projek is die transformasie-agenda wat aan akademies-verdienstelike leerders toegang tot tersiêre onderrig wil verskaf.

Die projek sal in 2018 by sewe sentrum aangebied word, insluitende: Vanderbijlpark, Potchefstroom, Mahikeng, Lichtenburg, Kimberley, Mankwe en Mamelodi. Aanvullende onderrig sal in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Rekeningkunde, Besigheidstudies en Engels gegee word.

Die projek is heeltemal van bydraes van verskillende borge afhanklik.

Meer oor die projek

Die woord “ikateleng” beteken “bemagtig jouself”, en gedurende die afgelope 30 jaar het duisende leerders gebaat by hierdie projek, wat tans as een van Suid-Afrika se mees geslaagde bemagtigingsinisiatiewe beskou word.

Volgens Darius Mhulatshi, Ikateleng se projekbestuurder, is die projek ’n voorbeeld van die NWU se toewyding om ’n bemagtiger vir sukses te wees. Hy verduidelik dat deelnemende leerders wat goed presteer in staat gestel word om vir merietebeurse te kwalifiseer sodat hulle sonder die bykomende las van bekommernis oor studiegeld met hulle tersiêre opleiding kan begin.

Deelnemende skole word elke jaar in Oktober deur ’n span van die NWU besoek om voornemende graad 10-leerders wat die volgende jaar vir die projek wil inskryf, voor te berei. Tydens hierdie besoeke word die leerders ook oor die vereistes van die projek, asook oor vakkeuses en kombinasies, ingelig. Onderwysers met ’n bewese prestasierekord word deur die Departement van Onderwys (DvO) gewerf om vir die duur van die projek as fasiliteerders op te tree. Talle van die huidige fasiliteerders is óf vakadviseurs, vakhoofde óf senior eksamennasieners.

Die program loop oor ’n tydperk van 18 agtereenvolgende Saterdae van 08:30 tot 15:00.

Meer oor die verskillende sentrums

Die Ikateleng-projek word vanuit sewe sentrums gekoördineer – een hoofsentrum by elkeen van die kampusse en vier addisionele leweringspunte – naamlik: Kimberley, Mankwe, Mamelodi en Lichtenburg.

  • Mahikengkampus: akkommodeer leerders van Mahikeng en omliggende distrikte binne ’n 50 km-radius.
  • Potchefstroomkampus: akkommodeer leerders van die Potchefstroom-area, Vredefort, Viljoenskroon, Klerksdorp, Orkney en Stilfontein.
  • Vanderbijlparkkampus: akkommodeer leerders van Vanderbijlpark, Vereeniging, Sasolburg, Deneysville, Bophelong en Orange Farms (Johannesburg-Suid).

 

Interessante feite:

  • In 2017 kon die projek met ’n oorkoepelende slaagsyfer van 89,3% spog.
  • ’n Totaal van 251 onderskeidings is in tydens die 2017 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aangeteken.
  • Die projek het in 2011 vermelding van die NWU ontvang as een van die suksesvolste gemeenskapsbetrokkenheid-programme tot op datum.

 

 

 

Submitted on Wed, 04/18/2018 - 12:32