Die Varsitybekerspan en Joubert Schoeman was onder die talle ontvangers van toekennings wat erkenning ontvang het op ’n aand wat aan uitnemendheid en ’n passie vir die spel toegewy is.
Afrigters en spelers het Maandagaand hulle rugbystewels vir aanddrag verruil toe die Noordwes-Universiteit (NWU) Rugbyinstituut sy jaareindfunksie en toekenningseremonie gehou het. Die rugbyspelers, wat vir hulle durf op die veld bekend is, was nou in hulle beste vere uitgedos en het ’n seisoen van harde werk, groei en geskiedkundige sukses gevier.
“Rugby is meer as net ’n spel. Dit is ’n weerspieëling van wie ons is en wat ons verteenwoordig.”
Hierdie kragtige woorde het die toon vir die aand aangegee en die dieper betekenis beklemtoon van die sport en die waardes wat dit verteenwoordig.
Dr Corrie Rheeder, direkteur van Studentelewe op die Potchefstroomkampus, het die seremonie met ’n innige boodskap geopen en die spelers vir hulle toewyding geloof. Sy het ook die Rugbyinstituut vir hulle deurlopende uitnemendheid lof toegeswaai. Sy het die gehoor daaraan herinner dat die aand nie net oor toekennings gaan nie, maar oor die viering van ’n kollektiewe gees en verbintenis wat die span motiveer.
Die vertrek was gevul met sportmanne en -vroue wie se passie vir rugby en die kameraadskap wat dit skep, hulle verenig. Dit was ’n viering van die gedeelde reis agter elke wedstryd, oefensessie en opoffering, en nie bloot van resultate nie.
Jean Marc Stidworthy, direkteur van Bemarking en Studentewerwing, het ’n inspirerende toespraak gelewer en die atlete met die volgende woorde aangemoedig: “Ons het almal stories, hartseer en oorwinnings, en hierdie gedeelde ervarings vorm elkeen van ons. Sport het die onbeskryflike vermoë om mense saam te snoer. Onthou, julle is hier om te studeer. Julle is studente en atlete. Elke oomblik kan ’n geweldige verskil maak, en julle bydrae maak saak. Julle verteenwoordig nie net die NWU nie, maar ook julle toekomstige self. By die NWU glo ons dat geleenthede nie sommer net opduik nie; hulle kom na vore wanneer ons na vore kom. Julle almal kom elke oomblik na vore – ongesiens. Personeel, afrigters en atlete, ons vier julle as mense en julle passie. Ons sien uit na die toekoms wat julle besig is om te help skep.”
Die toekenningseremonie het van die uitmuntendste prestasies van die seisoen vereer:
· Visekanselierstoekenning : toegeken aan die Varsitybekerspan vir die merkwaardigste gebeurtenis van die seisoen. Die span het geskiedenis gemaak deur die heel eerste NWU-span ooit te word wat 100 punte in ’n Varsitybekerwedstryd aanteken – ’n buitengewone mylpaal wat nasionale aandag getrek het.
· Johan Claassen Trofee (Rugbyinstituut se Speler van die Jaar) : toegeken aan Joubert Schoeman, wat nie net buitengewone prestasies op die veld behaal het nie, maar ook ’n Suid-Afrikaanse Sewes-kontrak (SA 7’s-kontrak) losgeslaan het. Dit het weer eens die talent van wêreldgehalte weerspieël wat by die NWU ontwikkel word.
Dit was maar net ’n paar van die toekennings wat die aand toegeken is toe afrigters, spelers en ondersteuningspersoneel erkenning ontvang het vir hulle bydraes, op en van die veld af.
In sy slotrede het Mervyn Taylor, bestuurder van die Rugbyinstituut, sy trots en dankbaarheid uitgespreek: “Ek is ongelooflik trots op hierdie spelers, nie net vir die buitengewone diens wat hulle op die veld gelewer het nie, maar ook vir die voorbeeld wat hulle deur hulle akademiese prestasies gestel het. Ek is vol vertroue dat hulle sal voortgaan om hulle loopbane tot nuwe hoogtes te voer. Dit is inderdaad ’n voorreg om vir hierdie instelling te speel.”







