NWU opgewonde oor eerste VK-wetenskapdag

Die Noordwes-Universiteit (NWU) maak gereed om op 31 Julie 2023 die eerste Visekanselierswetenskapdag (VK-wetenskapdag) by Mabeskraal naby Rustenburg in die Moses Kotane Munisipaliteit aan te bied.

Volgens die NWU se hoof en visekanselier, prof Bismark Tyobeka, dien hierdie gebeurtenis as ’n platform vir die smee van vennootskappe en vir samewerking onder opvoedkundige instellings, regeringsdepartemente, privaat maatskappye, die burgerlike samelewing en ander belanghebbers in die provinsie. “Ons doelwit is om met skoolleerders en voornemende studente van Mabeskraal en die omliggende dorpies te skakel in ’n poging om ’n nuuskierigheid oor die wetenskap te kweek en akademiese geleenthede vir jong mense in landelike gemeenskappe te bevorder,” sê hy.

Volgens prof Thebe Medupe, ’n NWU-professor in Sterrekunde en adjunk-dekaan vir Gemeenskapsbetrokkenheid by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, sal uitstallers, ampsbekleërs, die plaaslike gemeenskap en meer as 1 000 hoërskoolleerders uit die gebied en naburige dorpies die gebeurtenis bywoon.

Prof Thebe sê dat die VK se Wetenskapdag in die toekoms aangebied sal word by verskillende plekke waar die NWU ’n voetspoor het.

Ons vier in die besonder die feit dat prof Bismark Tyobeka ook ’n kernwetenskaplike is. Ons hoop om hierdie inisiatief elke jaar na verskillende dele van die provinsie te neem sodat ons ons reikwydte as ’n fakulteit en as ’n universiteit kan uitbrei om onsself aan gemeenskappe bekend te stel en om meer jong mense in ons provinsie in loopbane in wetenskap geïnteresseerd te kry,” sê prof Thebe.

Verskillende aktiwiteite is reeds beplan wat gemik is op die stimulering van ’n passie en ’n liefde vir wetenskap by hoërskoolleerders om hulle aan te moedig om loopbane in gebiede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM-gebiede) te oorweeg.

Hierdie aktiwiteite sluit ’n wetenskapuitstalling in wat wetenskaplike deurbrake vertoon en die impak wat dit op die samelewing gemaak het, ’n wetenskapkompetisie om studente aan te moedig om wetenskaplik te dink en om hulle kritiese denkvaardighede te slyp, asook ’n loopbaanuitstalling.

Daarbenewens sal personeel van die universiteit se Departement Bemarking en Studentewerwing leerders van praktiese raad bedien oor hoe om by die NWU vir toelating aansoek te doen.

Kgosi George Mokate Mabe van die Batlhako ba Matutu-koningshuis in Mabeskraal het die NWU geloof dat hulle gekies het om die gebeurtenis by die historiese Rakoko Senior Sekondêre Skool aan te bied. Dit is die oudste skool in die gebied en bedien ook leerders van buurdorpies.

Submitted on Fri, 07/21/2023 - 10:45