NWU oorbrug die Wiskunde-gaping

’n Wiskundige vergelyking wat uiteindelik sin maak! Dit is hoe voornemende studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark die waarde van die Wiskunde-leerprogram – Oorbrug die Wiskunde-gaping (BTMG) – beskryf.

Hierdie jaar is die vyfde keer wat die BTMG plaasvind, en sedert die instelling daarvan in 2014 het talle studente nie net hulle vrees vir Wiskunde oorwin nie, maar ook as studente floreer en hulle universiteitstudies in die BCom- en BSc-veld nagejaag. ’n Groep van 17 voornemende studente is tans met die leerprogram besig, en wanneer dit voltooi is, sal hulle vir hulle graadstudies in ekonomie, besigheidsinformatika en inligtingstegnologie kan inskryf.

Deur middel van die BTMG-leerprogram kry voornemende studente die geleentheid om hulle prestasie in Wiskunde te verbeter, wat hulle in staat stel om toegang te kry tot die graadprogramme soos BCom en BSc IT, wat ’n goeie wiskundige basis vereis. Daleen Gerber, direkteur van die vakgroep Wiskunde en Toegepaste Wiskunde in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, verduidelik dat nadat studente die BTMG-leerprogram aan die begin van die akademiese jaar voltooi het, hulle vir die gewone programme in die veld van BCom en BSc IT mag inskryf.

Volgens Daleen, wat ook die BTMG-leerprogram koördineer, dek die leerplan van die program nie net die basiese wiskundige begrippe wat vanaf graad 8 en verder onderrig word nie, maar ook die toepassing van hierdie begrippe in ooreenstemming met die uitkomste wat in die graad 12-leerplan gespesifiseer word. Kortom: ’n verskerpte fokus op die hele wiskunde-spektrum wat as voorkennis vir die wiskunde-modules in onderskeidelik die BCom- en BSc IT-leerplan sal dien.

Meer oor die program

Die program – wat binne die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aangebied word – is bekendgestel as ’n intervensie wat daarop gemik is om nie net skoolleerders se begrip van wiskunde (en dus hulle algehele prestasie in die vak) te verbeter nie, maar ook om toegang tot gebiede soos handel en inligtingstegnologie te verhoog. 

Daleen verduidelik dat studente wat ingeskryf is vir die BTMG-leerprogram wat tans op die kampus aan die gang is, vir twee weke lank vir ses uur elke dag met die leerplan besig is. Hulle ontvang in hierdie tyd intensiewe afrigting – in groepverband asook op ’n individuele basis – en skryf verskeie klastoetse asook twee eksamenvraestelle om die vlak van hulle insig te bepaal. “Die program vereis ’n minimum slaagsyfer van 50% vir alle deelnemers, en ek is bly om te kan sê dat die program tot dusver ’n slaagsyfer van 80% gehandhaaf het,” sê Daleen.

*Die program is net beskikbaar vir studente wat aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark verder wil studeer.

 

 

 

 

 

Submitted on Thu, 02/01/2018 - 12:48