NWU-ontwerpers skitter weer eens by groot kompetisies

NWU-ontwerpers skitter weer eens by groot kompetisies

Studente en gegradueerdes van die NWU se Grafiese Ontwerp-vakgroep het weer eens geskitter toe hulle in die onlangse internasionale Loerie-toekennings en nasionale Pendoring-toekennings talle oorwinnings behaal en benoemings ontvang het. Hulle het ook in verskeie ander kompetisies uitgeblink.

Hulle indrukwekkende kreatiwiteit en vaardighede het veral in die twee groot kompetisies geskitter, met NWU Grafiese Ontwerp wat in die Pendoring-toekennings die algehele derde plek onder instellings in Suid-Afrika, asook 19 benoemings in die Loerie-toekennings, behaal het.

Toekennings en uitnemendheid by die Pendorings

Grafiese Ontwerp het ’n trotse geskiedenis van uitnemendheid by die Pendorings – hulle het deur die jare talle eerste plekke behaal en toekennings ontvang. Dit was hierdie jaar ook glad nie anders nie, en die studente en gegradueerdes het weer eens getoon dat hulle aan die vereistes voldoen om in die hoogs mededingende wêreld van ontwerp en reklame uit te blink.

Die Pendoring-toekennings is op 13 November tydens ’n lewendige uitsending aangekondig. Hierdie advertensiebedryfkompetisie wat Suid-Afrika se inheemse tale vier, ken kontantpryse aan al die algehele wenners toe, asook aan die wenners van goue en silwer toekennings in elke kategorie.

Marina Herbst, vakvoorsitter vir BA Grafiese Ontwerp, sê dat al die NWU se Grafiese Ontwerp-finaliste in die Pendoring-toekennings ’n toekenning ontvang het – van goue Pendorings tot vernufsertifikate.

Tanya van Deventer het twee goue Pendorings in die kategorieë Student Film Motion Graphic Design, asook die Student Integrated Campaign gewen. Haar weninskrywing in albei kategorieë was haar Literacy Association of South Africa (LITASA) Hunt. Haar Iewers in die Bos-projek het aan haar ’n vernufsertifikaat in die vernufkategorie vir Student Print, Design and Out of Home (OOH) verwerf.

Elani du Preez het ’n goue vernufsertifikaat in die vernufkategorie Student Print, Design and OOH vir haar Divan se Avonture-projek ontvang, en Lindi Joubert het ’n silwer Pendoring vir haar projek Buurvroutrots! in die kategorie Student Integrated Campaign ontvang.

Suné Uys het ’n vernufsertifikaat ontvang vir die projek Sout van die Aarde in die kategorie Student Print, Design and OOH Crafts.

Loerie-toekennings lewer eerste plekke en talle benoemings op

Die wenners van die Loerie-toekennings in verskillende kategorieë is van 16 tot 20 November tydens die Loerie Creative Week aangekondig.

Tanya het haar wenveldtog met ’n silwer Loerie-toekenning voortgesit, weer eens vir haar Litasa Hunt-projek in die kategorie Student Integrated Campaign.

Elani se projek, Divan se Avonture, het ook aan haar ’n brons Loerie-toekenning verskaf.

Marina sê wat die NWU se prestasies by hierdie jaar se Loerie-toekennings nog meer betekenisvol maak, is die 19 benoemings wat hulle uit duisende inskrywings van regoor die land ontvang het.

Studente en gegradueerdes wat benoemings ontvang het, is:  

  • Tanya van Deventer vir haar Litasa Hunt-projek in die kategorie Student Integrated Campaign, vyf benoemings in die kategorie Student Television, Film and Video Crafts, en ’n benoeming in die kategorie Student Print and Design Crafts. Tanya is ook benoem vir haar projek United by Chocolate in die kategorie Student Television, Film and Video Crafts en die kategorie Student Fabric Design.
  • Elani se Divan se avonture het vir haar benoemings in die kategorieë Student Publication Design Category en Student Television, Film and Video Crafts, en Student Print and Design Crafts besorg.
  • Mareli Mostert is vir Culture of Confidence for Dignity Dreams in die kategorie Student Integrated Campaign benoem.
  • Carla Krugel en Jané Wiesner se Dome Distillery Memories het aan hulle ’n benoeming in die kategorie Student Packaging Design besorg.
  • Gretchen Crotz, Johan Badenhorst, Carla Krugel en Mia Jordaan se NWU Centre for Space Research: the Search for Wonder continues is in die kategorie Student Integrated Campaign benoem.
  • Caitlin Sanders, Mareli Mostert, Dominique Saayman en Douw Kruger se Tlhokatsebe le Noga is in die kategorie Student Print and Design Crafts benoem.
  • Morné Kruger, Carolien van Renssen, Marlizaan van Loggerenberg en Anneri van Wyk het ’n benoeming vir hulle projek Ntsa, Phiri Le Lethlalo in die kategorie Student Print and Design Crafts ontvang.
  • Carla Krugel se Tilly the Thirsty Bee is in die kategorie Student Print and Design Crafts benoem.
  • Christi Ferreira se The Bambanani Project: Touched live Touch Lives het ’n benoeming in die kategorie Student Integrated Campaign ontvang.

Studente blink ook in ander kompetisies uit

Die NWU spog ook met wenners in verskeie ander kompetisies soos die BP Wild Bean Café Design-A-Cup-, Ricoffy Tin Design- en Goldpack-kompetisies.

Kabelo Diphoko, ’n tweedejaarstudent in Grafiese Ontwerp, het die NWU trots gemaak deur die eerste prys in die BP Wild Bean Café-kompetisie los te slaan. Sy ontwerp is uit ongeveer 300 nasionale inskrywings as die beste aangewys. Minke van Schoor en Tian Zietsman is ook in hierdie kompetisie benoem.

Tanya van Deventer en Lindi Joubert se ontwerpe is in die topdrie van 312 inskrywings in die Ricoffy Tin Design-kompetisie gekies. Hulle ontwerpe kan op die Ricoffy-blikke by kleinhandelaars gesien word. (Klik op https://fb.watch/1YsOD93AzX/ en https://fb.watch/1YsTigqfWw/.)

Leo Rheeder het in die Goldpack-kompetisie ’n silwer spesialevermeldingstoekenning vir sy verpakkingsontwerp vir gebottelde water, genaamd It’s not made in China, ontvang .

As ’n mens na al die benoemings en uitmuntende wenners kyk, is uitnemendheid van ontwerp, verfyning van oorspronklike konsepte en die maak van ’n verskil vir hulle baie belangrik, sê Marina. “Ons is trots op die uniekheid, professionaliteit en tegniese vaardigheid wat die studente in hulle projekte inbring. Ons is trots op al ons studente en gegradueerdes wat hulle kreatiwiteit gebruik om uit te styg en om uitstekende gehalte in hulle werk aan die publiek te vertoon.”

Tanya

Tanya van Deventer is die wenner van talle toekennings. Sy het met haar Litasa Hunt-projek in die Loeries, Pendorings en Ricoffy Tin Design-kompetisie uitgeblink.

kabelo

Kabelo Diphoko se inskrywing het uitgestaan in die BP Wild Bean Café Design-A-Cup-kompetisie. Sy inskrywing, wat Mzansi se diversiteit beklemtoon, het aan hom ’n eerste prys besorg.

Elani

Elani du Preez se Divan se Avonture-projek het aan haar ’n goue vernufsertifikaat in die Pendorings en ’n brons toekenning in die Loerie-toekennings besorg.

 

 

Submitted on Mon, 11/30/2020 - 13:27