NWU onder die mees toegewydes ten opsigte van omgewings- en maatskaplike verandering

Universiteite het ’n deurslaggewende rol om te speel om oplossings vir dringende omgewings- en maatskaplike vrae te kry. Die jongste ranglys deur die Quacquarelli Symonds-agentskap (QS-agentskap) plaas die Noordwes-Universiteit (NWU) onder die top- wêreldwye en plaaslike universiteite wat omgewings- en maatskaplike volhoubaarheid betref.

QS het die NWU in die oorkoepelende kategorie 281 tot 300 uit 700 geplaas vir die beste wêreldwye instellings in 71 liggings.  Die NWU is onder die topsewe Suid-Afrikaanse universiteite in die maatskaplike sowel as die omgewingsimpakkategorie van die ranglys geplaas.

Dit is die eerste jaar dat QS universiteite met behulp van omgewings- en maatskaplike volhoubaarheidsmetingsaanwysers vergelyk het. Hulle het die ranglys op 26 Oktober gepubliseer.

Volgens QS was slegs universiteite wat voldoen aan ’n minimum vlak van navorsing wat met volhoubaarheid verband hou en ’n duidelike strategie oor klimaatsoptrede gepubliseer het, vir hierdie ranglys oorweeg. Hulle kyk na universiteite se navorsingsimpak en hulle lewering van gegradueerdes wat volhoubaarheidsloopbane gaan volg.

Lense identifiseer die sterkste prestasies

Die omgewingsimpak- en maatskaplike-impakkategorieë gebruik albei verskillende prestasielense om die finale tellings te bereken.

Die NWU se sterkste omgewingsimpak-lens is volhoubare instellings (dit evalueer die instelling se bedrywighede en verbintenis tot volhoubaarheid), met ’n telling van 261. Die sterkste maatskaplike-impak-lens is kennisuitruiling (hoe instellings vennootskappe vorm in navorsing en met die bedryf om kennis te deel en groei in onderwys aan te moedig), waar die NWU wêreldwyd in die 146ste posisie is.

Die omgewingsimpak-lens sluit volhoubare onderwys (onderwys om te verstaan en ’n verskil aan die omgewing te maak), volhoubare instellings en volhoubare navorsing in.

Die maatskaplike-impak-lens dek indiensneming en geleenthede, ’n klimaat van gelykheid, lewensgehalte (universiteite se impak op navorsing oor gebiede wat die gesondheid en welstand van mense sowel as dié van ander wesens beïnvloed), die impak van onderwys, en kennisuitruiling.

Verbind tot ’n volhoubare bestaan

Volgens QS toon die volhoubaarheidsgradering aan studente watter instellings ’n verbintenis tot ’n meer volhoubare bestaan demonstreer.

Hulle sê dit is meer as bloot die verbintenis, hulle kyk ook na bewyse van buite hiervoor – van die impak wat alumni in wetenskap en tegnologie maak om klimaatskwessies op te los, tot die impak van navorsing wat regoor die Verenigde Nasies se 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling* gedoen word.

 QS evalueer die maatskaplike en omgewingsimpak van universiteite as sentrums van onderwys en navorsing en as belangrike werkgewers met die bedryfs volhoubaarheidsuitdagings van enige groot en komplekse organisasie.

Dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, sê die jongste ranglys bied waardevolle insigte oor hoe die universiteit ten opsigte van sy wêreldwye eweknieë vaar wat volhoubaarheid betref.

“Dit beklemtoon ons sterk punte, maar gee ook vir ons ’n aanduiding van die gebiede waarop ons as universiteitsgemeenskap kan fokus om die mikpunte wat deur die Verenigde Nasies se Volhoubaarheidsdoelwitte gestel word, na te streef.”

*Die Verenigde Nasies se 17 Volhoubaarheidsdoelwitte is: Geen armoede nie; geen honger nie, goeie gesondheid en welstand; gehalte-onderwys; geslagsgelykheid; skoon water en sanitasie; bekostigbare en skoon energie; behoorlike werk en ekonomiese groei; nywerhede, innovasie en infrastruktuur; verminderde ongelykhede; volhoubare stede en gemeenskappe; verantwoordelike gebruik en produksie; klimaatsoptrede; die lewe onder water; die lewe op land; vrede, geregtigheid en sterk instellings; en vennootskappe vir die doelwitte.

Submitted on Thu, 10/27/2022 - 16:32