NWU onder die bestes in ingenieurstudies

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is een van die topinstellings in Suid-Afrika in ingenieurstudies.  Dit is volgens die jongste ranglys deur Times Higher Education (THE), wat die NWU op die gebied van ingenieurswese in die derde posisie onder nege plaaslike hoëronderwysinstellings geplaas het (dieselfde as verlede jaar).

THE het die NWU in die 401- tot 500-kategorie wêreldwyd geplaas – dieselfde kategorie as op verlede jaar se ranglys. Die NWU is teen 1 188 universiteite wêreldwyd gemeet.

Die graderings is op 6 Oktober aangekondig en noem die universiteite wat leiers is op die vakgebiede van ingenieurswese, wat algemene ingenieurswese, elektriese en elektroniese ingenieurswese, meganiese en lugvaartingenieurswese, siviele ingenieurswese en chemiese ingenieurswese insluit.

Die ingenieursweseranglys gebruik dieselfde prestasieaanwysers as die Times Higher Education World University Rankings van 2022. Dit word in vyf gebiede gegroepeer: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, het in sy kommentaar op die ranglys gesê dat hierdie graderings die relevansie van die NWU se aanbiedings in die bedryf – plaaslik en internasionaal – beklemtoon.  

“Ons is trots op ons prestasies, aangesien ons daartoe verbind is om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees. Ons is daartoe verbind om gegradueerdes van gehalte te lewer wat die potensiaal het om in hulle gekose loopbane uit te blink en ook om ’n waardevolle bydrae in ons land te maak.”

Die amptelike hutsmerk vir die Times Higher Education World University Rankings per vak is #THEUniRankings. Om meer oor die NWU se prestasie in ingenieurswese uit te vind, besoek: https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2022/subject-ranking/engineering.

Times Higher Education het vroeër op 16 September die ranglys vir die vakke fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, kliniese en gesondheidswetenskappe en sielkunde vrygestel. Om meer oor hierdie ranglyste te lees: https://news.nwu.ac.za/latest-rankings-reaffirm-nwus-quality-subjects.

LET WEL! Die ranglyste vir sosiale wetenskappe, besigheid en ekonomie, opvoedkunde en die regte sal op 13 Oktober vrygestel word. Die vakranglyste vir die kunste en geesteswetenskappe volg op 3 November.

Submitted on Thu, 10/07/2021 - 10:14