NWU nou in die top-4,5% van wêrelduniversiteite

Die Noordwes-Universiteit (NWU) skitter steeds op wêreldwye ranglyste. In die jongste ranglysgradering het die Center for World University Rankings (CWUR) die NWU in hulle 2022/2023-uitgawe van die Global 2000-lys in die top-4,5% van universiteite geplaas. Dit is ’n verbetering op hulle plek in die top-4,7% op dieselfde ranglys verlede jaar.

Hierdie merkwaardige prestasie is op 25 April op die cwur.org-webwerf gepubliseer. Die NWU is volgens akademiese prestasie onder 19 788 universiteite wêreldwyd op die ranglys geplaas.

Die NWU het ook op verlede jaar se oorkoepelende telling van 70,7 tot 71,0 verbeter. Ons is in die 880ste plek in die wêreld geplaas (verlede jaar was ons 924ste), en is steeds negende in Afrika en sewende in Suid-Afrika. Die NWU is 837ste (verlede jaar 879ste) vir navorsing geplaas.

Prof Linda du Plessis, waarnemende hoof en visekanselier van die NWU, sê hierdie jongste wêreldranglys volg op die hakke van die Times Higher Education (THE) Young University Rankings.  Die THE Young University Rankings het die NWU algeheel derde in Suid-Afrika op sy ranglys van die wêreld se beste universiteite van 50 jaar oud en jonger geplaas. Die THE Young University Rankings is op 15 Februarie 2022 gepubliseer (om meer te lees, besoek: NWU continues impressive performance in rankings | news.nwu.ac.za).

“Hierdie ranglyste gee erkenning aan die uitmuntende werk wat alle lede van die NWU-gemeenskap doen.  Hierdie internasionale erkenning dien as bemagtiger vir die versterking van vennootskappe en internasionale samewerking.”

Sy sê dat die bestuur van die NWU geweldig trots is op al sy personeel, studente en ander rolspelers wat hulle bes doen om die NWU internasionaal te laat uitblink.
CWUR – Grootste akademiese ranglys van wêrelduniversiteite

Die CWUR publiseer die grootste akademiese ranglys van universiteite in die wêreld. Dit is ’n konsultasie-organisasie wat advies oor beleide, strategiese insigte en konsultasiedienste aan regerings en universiteite verskaf met die doel om opvoedkundige en navorsingsuitkomste te verbeter.

Die CWUR-ranglyste is uniek deurdat die organisasie gelyke klem op studenteverwante en fakulteitsverwante aanwysers plaas. 

Hulle gebruik ook objektiewe aanwysers vir al vier die sleutelpilare wat die basis is van die metodologie van die ranglys, en maak nie staat op opnames en datavoorleggings nie.

Die vier sleutelpilare is die gehalte van die onderrig, indiensneming van alumni, die gehalte van akademici en navorsingsprestasie.

Klik hier vir meer inligting oor die graderings.

Submitted on Tue, 04/26/2022 - 10:03