Hy was die 56ste Springbokkaptein. ʼn Kanniedood-werkesel wie se blonde kop orals op die veld te sien was. ʼn Beweeglike haker met genoeg wringkrag om ʼn hele rugbyveld vir 80 minute lank om te dolwe. ʼn Leier.
Met die aanvang van Allister Coetzee se era as Springbokafrigter is daar op Adriaan Strauss se knoppie gedruk om die nasionale span te lei. Dit was ʼn besluit wat wyd toegejuig is en hoewel 2016 nie as ʼn spogjaar vir die Bokke onthou word nie, kon daar nog nooit ʼn vinger na Adriaan gewys word nie.
Hy het sy internasionale stewels teen die einde van 2016 opgehang en sy provinsiale stewels het in 2018 gevolg. Wenkbroue is gelig, want Adriaan se fut was nog lank nie uit nie. Hierdie inspirerende spanman vir beide die Cheetahs en Bulls het egter ʼn plan gehad.
Adriaan het hom reeds as speler by ITEC in Bloemfontein aangesluit, waar hy sy tande saam met Valentine Rantsoareng, André Venter en Chris Badenhorst in die besigheidwêreld begin slyp het. Ja, dáárdie Vrystaatse legendes André Venter en Chris Badenhorst. Eersgenoemde dalk die hardste rugbyspeler wat die Springbokke nóg opgelewer het. Laasgenoemde, self ʼn Springbok, ʼn drieëvraat met ʼn onversadigbare aptyt om die doellyn te kruis.
“Ek het net aangegaan met die besigheidswêreld waar ek opgehou het,” vertel die veteraan van 66 toetse in die groen-en-goud.
Adriaan het in 2022 by die Noordwes-Universiteit (NWU) vir sy MBA-studies ingeskryf. “Eerstens is dit ʼn gesogte kwalifikasie. Dit laat jou anders dink, dit verander jou benadering en dit is presies waarvoor ek gesoek het. ʼn MBA gee jou die geleentheid om te leer en te groei. Ek geniet die finansiële aspek van my werk en ek wil graag beter besluite in daardie rigting neem. Tweedens is daar die NWU, sy reputasie en die feit dat die MBA internasionaal geakkrediteer is.”
Dink hy sy tyd in rugby se loopgrawe gaan hom in die besigheidswêreld help?
“Daar is lesse wat mens op die rugbyveld leer, maar elke besigheid verskil en vereis ander bestuurstyle- en tegnieke.”
Adriaan is nou eers 36, tog is ʼn terugkeer tot die veld buite die kwessie.
“Ek mis partykeer die spel. Ek mis dit om tussen die ouens te wees. Maar, ek het my tyd gehad, en as ek môre die geleentheid kry om weer te speel, sal ek dit beslis nie doen nie,” skerts hy.
Dan is daar ook die teenstanders, towenaars en hansworse.
“Ek het altyd baie respek vir Richie McCaw as speler en kaptein gehad en vir die manier waarop hy homself gedra het. Bakkies Botha, Victor Matfield, Schalk Burger en Jean de Villiers was van die taaiste ouens teen wie ek gespeel het. Ek gaan eendag vir my kinders kan sê ek het teen ʼn paar regte hardebaarde gespeel. Jean was ook een van die snaaksste ouens en vol streke, hoewel hy baie rustiger geword het toe hy Springbokkaptein was. By die Cheetahs was Heinrich Brüssow en Lood de Jager die narre.”
Onder die talentvolste spelers noem hy ook vir Lood de Jager, wat vir sy spelpeil op- en streke van die veld af welbekend by die NWU was, asook vir Willie le Roux.
Wys jou nou net.
Adriaan Strauss.