NWU-netbal bly vervoerband vir nasionale span

Die land se netbalspanne is weereens met NWU-speserye gegeur, met huidige en oudstudente wie se name verskyn op al wat nasionale spanlys is.

Die NWU is al vir etlike jare bekend as ʼn vervoerband vir die Proteaspan, met selfs die huidige afrigter, Dorette Badenhorst, wat eers haar vaardighede met dawerende sukses by die NWU geslyp het.

Alumni van die NWU wat tans in die Protea-groep is, is Monique Reyneke, Simone Rabie, Zigi Burger, Renske Stoltz, en Rome Joubert (née Dreyer). Dan is daar Didi Keebine en Jessica du Plessis in die SA A-span, terwyl die nasionale o.21-span met Lucy Strydom, Kailah Ferreira, Adivhaho Tshivhiahuvhi en Elmeré van der Berg spog. Daarbenewens is die NWU se hoofafrigter, Elsunette du Plessis, onlangs as ’n vlak 3-afrigter gegradeer. Dit is Netbal Suid-Afrika se hoogste graderingsvlak.

“Wat NWU-netbal vir die land beteken, is dat ons ʼn pasaangeër is. Ons ding mee met universiteite wat uit baie groot poele kan trek, maar die rede waarom ons so goed doen, is ons afrigterskorps, wat ons kern is. Twee nasionale afrigters was al deel van die klub, en ons huidige afrigter, Elsunet du Plessis, se passie vir die sport bou die klub se gees uit. Dat ons soveel nasionale spelers oplewer, is net ongelooflik,” verduidelik Heléne Botha, vrouesportbestuurder op die Potchefstroomkampus.

Meer as die NWU se lys prestasies, is dit die spelers en afrigters wat Botha die trotsste maak. 

“Om te sê ek is trots is om dit sagkens te stel. In die 18 jaar wat ek deel van hierdie klub is, besef ek keer op keer hoe trots ons kan wees op die mense wat ons die wêreld instuur. Daardie menswees en wat hulle in die sport en samelewing terugploeg, is wat ons harte warm laat klop.”

Submitted on Mon, 05/24/2021 - 16:18