NWU maak ’n impak tydens Eureka Skool se spesiale sportdag

Dit is ’n foto wat voorwaar boekdele spreek. Twee jong leerders wens mekaar geluk nadat hulle aan die jaarlikse spesiale sportdag van die Eureka Skool deelgeneem het. Met hulle breë glimlagte en blink ogies dra hulle trots hulle gedenkmedaljes om hulle nekke. 

’n Gesig soos hierdie getuig van die Noordwes-Universiteit (NWU) se belofte om voortdurend te probeer om deur ’n onwrikbare sorgsaamheidsetiek ’n impak op lewens te maak. 

Tydens die onlangse spesiale sportdag op 30 Augustus het die NWU se Fakulteit Opvoedkunde in Vanderbijlpark by die Vanderbijlparkgemeenskap aangesluit om die meer as 400 hoësorgleerders van skole vir leerders met spesiale behoeftes regoor sentraal-Suid-Afrika te vier. 

Die leerders het aan verskillende sportaktiwiteite soos stap met ondersteuning, kruip, ’n rolstoelresies, doelskoppe en doelgooie deelgeneem.

Die NWU het hierdie jaar vir die tweede keer aan hierdie inisiatief deelgeneem. Volgens dr Elize Kung, die fakulteit se adjunkdekaan verantwoordelik vir gemeenskapsbetrokkenheid, vorm die NWU se deelname deel van sy oorkoepelende Mandeladagveldtog.

“Ons glo dat elke kind belangrik is, en daarom is ons trots daarop om die spesialesportdag-inisiatief te ondersteun,” verduidelik dr Kung, en voeg by dat as ’n mens ’n glimlag op ’n kind se gesiggie kan plaas, dit een van die beste ervarings is wat jy ooit kan hê. Sy sê voorts dat sy daarvan sal hou as hierdie samewerking tussen die NWU en Eureka Skool uiteindelik oor die lang termyn volgehou kan word.

Die fakulteit het tydens die geleentheid ook hulde gebring aan prof Kobus Lombard, wat hierdie samewerking in 2018 geïnisieer het. Hy is kort ná die 2018-geleentheid oorlede.

* Deelnemende skole het die volgende skole ingesluit: Lettie Fouché, June Nicholls, Janie Schneider, Marietjie, Al-Munirah, Eureka Skool, Amari, Con Amore, Eurisko, Hamlet, Lewenslig en ES le Grange.

Personeellede van die Fakulteit Opvoedkunde staan leerders in die verskillende sportafdelings by.

Van die personeellede wat by die geleentheid aangesluit het en aan die aktiwiteite deelgeneem het.

 

Submitted on Tue, 09/10/2019 - 09:51