Me Precious Mncayi en mnr Jacques de Jongh, albei kundiges binne die veld van die ekonomie by die Noordwes-Universiteit se kampus in Vanderbijlpark, is van mening dat die land se werkloosheidsyfers onder die jeug kommerwekkend is, en dat dit noodsaaklik is dat ’n reeks openbare en privaat ingrypings baie dringend geïmplementeer moet word.
Volgens Mncayi en De Jongh kom verskeie kwessies ten opsigte van werkloosheid onder die jeug na vore:
Die grootste struikelblokke wat jongmense wat goeie werk soek mee te kampe kry, sentreer om die swak verskaffing van gehalte-onderwys wat ’n wanverhouding veroorsaak het tussen die vaardighede wat deur die privaat sektor vereis word, en dit wat deur nuwe werksoekers gelewer kan word. Die vraag na arbeid in die lig van strukturele veranderinge is hoofsaaklik gerig op goed-opgeleide arbeiders – ten koste van talle laaggeskoolde werkers.
Verder het die onderwysstelsel misluk in die taak om hierdie jong werksoekers voldoende toe te rus, wat beteken dat jongmense die arbeidsmark betree sonder die nodige tegniese en sagte vaardighede (kommunikasie, emosionele volwassenheid, ens.) wat deur werkgewers vereis word. Jongmense wat vir werk aansoek doen, het geen kennis van die arbeidsmark nie, en het beperkte inligting oor die werksoekproses. Daar is ook ander faktore wat veroorsaak dat jong werksoekers uitdagings ervaar wanneer hulle werk soek, omdat baie van hulle uit ’n verarmde agtergrond kom. Daar is ’n gebrek aan sosiale kapitaal of netwerke wat hulle kan bystaan om op ’n beter manier werk te soek, en daar is nie genoeg geldelike ondersteuning wat werksoekers toelaat om hulle geografiese probleme te oorkom nie.
Terwyl hierdie struikelblokke ten opsigte van werk hoofsaaklik om die groot getal van hierdie jong arbeiders draai, moet enige poging om hierdie situasie vir die land oor die algemeen te verbeter, met ’n verbeterde volhoubare groeipad en die gevolglike verslapping van die streng arbeidsregulasies gepaardgaan.
Ekonomiese prestasie die afgelope ruk was te traag om die opname van die toenemende getal nuwe toetreders tot die arbeidsmark te fasiliteer. Groei van ten minste 3% in die BBP (Bruto Binnelandse Produk) word vereis om werkskepping aan te moedig. Uiters beperkende arbeidswetgewing het ook firmas onwillig gemaak om jongmense in diens te neem. Die streng arbeidswette maak dit toenemend moeilik om onproduktiewe werkers af te dank en werkgewers skram dus weg van die risiko om hierdie onervare werkers in diens te neem.
Oplossings vir die skep van werk vir die jeug
In ’n poging om moontlike oplossings vir die krisis van die werklose jeug te bied, het Mncayi en De Jongh die volgende intervensies voorgestel:
- Verbeter die onderwysstelsel
Daar is gapings wat dikwels in die arbeidsmark voorkom, veral as gevolg van die onvoldoende inligting tussen werkgewers en hoëronderwysinstellings. Ontwerpers van die kurrikulum moet noukeurige aandag skenk aan die inhoud van TVET-kolleges en universiteitskursusse deur seker te maak dat dit so prakties as moontlik is sodat gegradueerdes gehelp kan word om, wanneer hulle dan die arbeidsmark betree, die oorgang van hoëronderwysinstellings na die werksituasie makliker te maak. Dit is baie belangrik, aangesien dit sal verseker dat vaardighede (byvoorbeeld kognitief en analities) wat jongmense aangeleer het, wyd toegepas kan word.
- Groter blootstelling aan loopbaanvoorligting
Weer eens kan hierdie punt ook aan ’n verbeterde onderwysstelsel gekoppel word. Baie moet gedoen word om hierdie jongmense aan loopbaanvoorligting bloot te stel, en talle hoëronderwysinstellings moet gereelde loopbaanuitstallings hou net om die gaping te oorbrug wat tussen “vraag en aanbod” in die arbeidsmark bestaan, en ook om studente ten volle oor die relevantheid van kursusse, insluitende werksgeleenthede, in te lig. Maatskaplike ondernemingsinisiatiewe en niewinsgewende organisasies kan ook help om die skakel tussen werklose jeug en potensiële werkgewers te fasiliteer.
- Entrepreneurskap
Een van die grootste uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, is die skep van werk deur ’n kultuur van entrepreneurskap. Klein besighede ervaar by tye befondsingsprobleme en dan is hulle nie in die posisie om ander in diens te neem om die besigheid te help bedryf nie. Jongmense wat graag ondernemings wil begin, moet nie net op banke staatmaak om hulle van kapitaal te voorsien nie; die regering behoort in sulke gevalle in te tree deur dit nie net makliker te maak vir mense om ondernemings te begin nie, maar ook om daardie ondernemings aan die gang te hou. Opleiding oor die bestuur van klein ondernemings behoort verbeter te word, veral in die lig van die hoë mislukkingsyfer van 63% in die eerste twee jaar van ’n klein besigheid se bestaan. Entrepreneurskap is reeds ’n katalisator vir groei, en dit word gesien in die toename in die getal mense wat as entrepreneurs werk – van 18% in die laat 1990’s tot meer as 60% tans.
- Verskaffing van opleiding of werkservaring
Aangesien die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika struktureel van aard is, kan maniere om dit te hanteer ook die opleiding en heropleiding behels van mense wat werkloos is sodat hulle vaardighede aanpas by dít wat deur die bedryf vereis word. Jongmense moet ook meer aan beroepsopleiding, werkservaringopleiding (byvoorbeeld deur as vrywilligers te werk) en selfs internskappe blootgestel word. Dit sal nie net aan jongmense die geleentheid gee om formele werkservaring op te doen nie, maar dit sal ook hulle kanse verbeter om werk te kry, en dit kan verder hulle kanse bevorder om na voltydse en permanente werk oor te gaan.
- Loonverwagtings
Jongmense is dikwels waningelig oor die tempo van vordering in die werksplek. Sommige van hulle kan dalk internskapgeleenthede van die hand wys omdat dit baie lae salarisse betaal, en hoop dan dat hulle iets sal vind wat beter betaal. Hierdie korttermyndenkwyse is nie goed nie, aangesien dit die geleentheid om waardevolle werkservaring op te doen, in die wiele ry. Jongmense moet dus hulle loonverwagtings verlaag, veral as hulle daaraan dink dat die salaris wat mark verreken dikwels laer as die gereserveerde salaris is. Jongmense moet die waarde van harde werk en toewyding besef en ’n realistiese verwagting hê so ver as wat dit werksukses vir nuwe toetreders tot die arbeidsmark raak.