Met die hoë voorkoms van maatskaplike probleme in Suid-Afrika loop maatskaplike werkers dikwels gevaar om as gevolg van swak werksomstandighede depressie, uitbranding, en buitengewone hoë stresvlakke te ontwikkel. Laasgenoemde sluit in dat hulle met geweld en mishandeling te doen kry, dat hulle ’n gebrek aan respek van ’n groot deel van die samelewing ervaar, dat hulle in ongunstige omgewings werk, dikwels met ontoereikende salarisse, en dat daar ’n groot tekort aan hulpbronne is en hulle regsuitdagings ervaar wanneer hulle hulle pligte moet uitvoer.
Een groep maatskaplike werkers wat veral ’n risiko loop ten opsigte van negatiewe gesondheidsuitkomste as gevolg van blootstelling aan swak werksomstandighede, is maatskaplike werkers in kinderbeskerming (die CPSW). Hulle staan ook bekend as statutêre maatskaplike werkers, veldwerkers en toegewysde maatskaplike werkers.
Dr Elmien Truter en prof Ansie Fouché, albei dosente in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, is besig met intensiewe navorsing oor nie net die risiko’s waaraan maatskaplike werkers op die gebied van kinderbeskerming blootgestel is nie, maar ook oor hoeveel van hierdie professionele persone daarin slaag om, ten spyte van langdurige blootstelling aan hierdie risiko’s, positief aan te pas. Hierdie twee se navorsing – soos dit in die Optentia-navorsingsfokusarea uitgevoer word – het groot insig in die beroep gebring en probeer om twee belangrike vrae te beantwoord: Watter faktore plaas die CPSW in gevaar? Hoe pas die CPSW by hierdie risiko’s aan?
Hulle navorsingsbevindings
Uit ontledings van hulle navorsingsdata – soos dit oor drie rondtes van ondersoeke ingesamel is – is dit duidelik dat die CPSW in Gauteng as gevolg van verskeie faktore in gevaar verkeer soos dit uit verskeie bronne na vore gekom het. Dit sluit in dat hulle nie genoeg geld verdien om vir hulleself te sorg nie, wat dikwels tot gevolg het dat maatskaplike werkers persoonlike risiko’s loop omdat hulle dit nie kan bekostig om in veilige en goeie areas te woon nie en dikwels in soortgelyke dorpe of komplekse as dié van hulle kliënte woon. Maatskaplike werkers wat oor die algemeen nie genoeg geld verdien nie, is diegene wat by nieregeringsorganisasies in diens is. Dit veroorosaak dat hulle onveilig voel omdat hulle nie die nodige rekeninge kan betaal en hulleself kan versorg nie, ten spyte van die verwagting van die samelewing en ander professionele persone dat hulle altyd professioneel moet lyk. Maatskaplike werkers in kinderbeskerming loop die grootste gevaar ten opsigte van die negatiewe uitkomste wat hierbo genoem word, as gevolg van die baie stresvolle aard van hulle statutêre betrokkenheid by die ondersteuning van kinders en hulle gesinne. Sulke statutêre pligte behels die verwydering van kinders van huishoudings waar mishandeling voorkom en om hof toe te gaan om die beskerming van kinders te wettig.
Die meeste van die tyd het hierdie professionele persone ’n gevallelading van enigiets tussen 100 en 300 gevalle, met die yslike bykomende administratiewe druk om kritieke besluite oor die veiligheid en welstand van kinders te neem, terwyl hulle bedreig word deur prokureurs wat die vermeende molesteerders en gesinne of gemeenskapslede verteenwoordig en wat gereed staan om die besluite van die CPSW aan te val.
Te midde van hierdie stresvolle situasie het die CPSW dikwels nie genoeg brandstof vir hulle voertuie of genoeg ink om ’n verslag te druk nie, en tog is daar druk om dienste betyds te lewer.
Van hierdie maatskaplike werkers het aan die kundiges verduidelik hoe invloede vanuit die politieke arena ’n nadelige impak op hulle vermoë het om op die beskerming van kinders te fokus. Dit vind plaas deurdat daar immer toenemende administratiewe eise en opdragte is om op verskillende areas van dienslewering te fokus, afhangend van die politieke agenda of die party wat op ’n gegewe tydstip aan bewind is. Hierdie administratiewe druk lei dikwels daartoe dat personeel nie die mishandelde kind by die huis bereik nie, of nie die vrou kan sien wat aan gesinsgeweld blootgestel is nie omdat belangrike papierwerk dadelik aan diegene in beheer gelewer moet word.
Navorsing wat ’n impak op die beroep het
Die kundiges het uit hierdie verskillende onderhoude ontdek dat die aanpasbaarheid van maatskaplike werkers in kinderbeskerming meestal die gevolg is van verskeie aangebore persoonlikheidseienskappe of aspekte soos dat hulle ’n passie of roeping vir hulle werk het om kinders te beskerm, dat hulle ’n interne lokus van kontrole het, asook ’n positiewe houding en die vermoë om oorwinnings te vier. Ander eienskappe sluit in dat hulle tyd maak vir ontspanningsaktiwiteite en om hulleself te versorg, vaste grense stel sodat hulle hulleself respekteer, hulle emosies beheer en die vermoë het om te kan lag oor al die ontstellende werklikhede waarmee hulle te doen kry.
Hulle aanpasbaarheid word egter ook baie beïnvloed deurdat hulle aan geloofsverwante aktiwiteite soos gebedsgroepe deelneem, en konstruktiewe verhoudings het met mense wat hulle help om ’n balans in die lewe te vind, en wat hulle in moeilike tye ondersteun wanneer hulle hulle statutêre pligte moet uitvoer – dit alles speel ook ’n vername rol in hulle vermoë om by probleme in die werkplek aan te pas. Hierdie positiewe verhoudings gee aan die CPSW die geleentheid om aan werklikhede soos kindermishandeling te ontsnap, die geleentheid om asem te haal en te rus. Hierdie verhoudings help ook die CPSW om op ander aspekte van die lewe te fokus en om na te dink en te besef dat hulle wel ’n verskil maak en dat hulle buite die werkplek gewaardeer word.
Hoewel maatskaplike werkers soms net gesien word as “mense met goeie bedoelings”, is dit belangrik om te erken dat dit die beroep is waar aksie en deernis hand-aan-hand loop. Hierdie professionele persone pas wetenskaplike metodes toe in die uitvoering van hulle pligte en het ’n mandaat van ’n professionele liggaam, verskillende wette en die groter gemeenskap om hoë etiese waardes in stand te hou.
Daar word dikwels van hulle verwag om wonderwerke te verrig, en hoewel alle maatskaplike werkers deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe vir hulle optrede of gebrek daaraan aanspreeklik gehou sal word, is die werklikheid waarin hulle hulle pligte moet uitvoer onbekend aan die groter gemeenskap wat van hulle afhanklik is. Om van hierdie werklikhede bewus te wees, sal die samelewing help om deernis en empatie met die CPSW te hê.
Prof Ansie Fouche Dr Elmien Truter