Volgens dr Ilyayambwa Mwanawina, ’n kundige in streeksintegrasie, internasionale reg, goeie bestuur en menseregte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, is daar verdienste in die idee om ’n hersiene klimaatsooreenkoms te versoek.
Volgens dr Mwanawina is sy begrip, en sy gevolglike instemming met die onttrekking, gegrond op verskeie politieke en regsfaktore wat in hierdie opsig van Trump se redes verskil.
Swak internasionale ooreenkoms
Dr Mwanawina se mening is dat diegene wat bekommerd is oor die VSA se onttrekking aan die ooreenkoms hulle weer van die aard van die Paryse Ooreenkoms moet vergewis. Die hoofdoelwit van die ooreenkoms is om die wêreldwye reaksie op die bedreiging van klimaatsverandering in die konteks van volhoubare ontwikkeling te versterk. Dit vereis dus van lande om doelwitte te stel om hulle koolstofvrystellings te verminder, om elke vyf jaar te vergader, en om hulle onderskeie vrystellingsvlakke en verminderings te moniteer en daaroor verslag te doen. Die basis van hierdie ooreenkoms is gegrond op die hoop dat regerings se deelname aan die ooreenkoms eerlik genoeg sal wees om die stryd teen klimaatsverandering te prioritiseer.
Benewens ’n paar gevalle van uitgelekte e-posse is eerlikheid ongelukkig ’n skaars kommoditeit in die wêreldpolitiek. Ons moet ook in gedagte hou dat, volgens Artikel 2 en 3 van die Paryse Ooreenkoms, elke land se doelwitte en die pogings waaraan hulle moet voldoen nasionaal vasgestel en geïmplementeer word, met inagneming van die onderskeie vermoëns, en in die lig van verskillende nasionale omstandighede. Waarop dit in effek neerkom, is dat elke party ’n baie wye diskresie het wanneer hulle die tipe maatreëls kies wat hulle sal implementeer om klimaatsverandering te bekamp, asook die finansiële opofferings wat gemaak sal word. As ’n regering tydens sy begrotingsfase voel dat hulle die gesondheid- en onderwyssektor wil befonds (eerder as om miljoene by te dra om die effek van klimaatsverandering teen te werk), sal so 'n besluit binne die konteks van die eiesoortige omstandighede van só ’n land gerespekteer word.
Daar is in effek geen instelling wat sal bepaal of sulke maatreëls voldoende is nie, en daarom is dit baie moontlik om met ’n skewe patroon van verbintenis te sit, waar ’n land met baie hoë kweekhuisgasvrystellings die kleinste poging aanwend om by die ooreenkoms te hou, teenoor ’n land met lae kweekhuisgasvrystellings wat sy hulpbronne opoffer om die ooreenkoms na te kom.
Nie-konfronterend en nie-strafgerig?
In artikel 15 sê die ooreenkoms dat daar ’n komitee moet wees wat uit kundiges bestaan, wat onderhandelend van aard is, en op só ’n wyse funksioneer dat dit deursigtig, nie-konfronterend en nie-strafgerig is. Die woorde “nie-konfronterend” en “nie-strafgerig” dui die vrywillige aard van die ooreenkoms aan. In ’n geo-politieke struktuur waar elke staat ’n verpligting het om sy eie soewereiniteit te bewaar, en sy nasionale belange te beskerm en bevorder, toon die apologetiese aard van die Paryse Ooreenkoms – volgens dr Mwanawina – nie veel ambisie nie. Daar is talle instrumente van die Verenigde Nasies wat deur die moontlikheid van sanksies gesteun word, maar die geskiedenis het bewys dat dit nie ’n voldoende afskrikmiddel is nie. Kortom: die Paryse Ooreenkoms is swak, het nie ’n meganisme om dit afdwingbaar te maak nie, en maak nie aanspreeklikheid vir klimaatsverandering duidelik nie.
Wie moet vir aardverwarming betaal?
As dit noukeurig bestudeer word, kan daar gesien word dat daar ’n vlak van dubbelsinnigheid in die Paryse Ooreenkoms voorkom. Om die effek van klimaatsverandering te verminder, sal ongetwyfeld groot bedrae geld van deelnemende regerings vereis. Die werklikheid is egter dat, as gevolg van die verskillende finansiële vermoëns van elke land in die wêreld, nie elke land die nadelige effek van klimaatsverandering doeltreffend sal kan teëwerk en steeds ’n goeie standaard van welstand vir sy burgers sal kan verseker nie.
Die oplossing wat deur die Paryse Ooreenkoms gebied word, is om ontwikkelde lande so ver te kry om fondse tot voordeel van ontwikkelende lande beskikbaar te stel. Dit kom in werklikheid daarop neer dat gevestigde ekonomieë soos dié van China en die VSA die pogings van hoogs kwesbare streke in die ontwikkelende wêreld, soos Sub-Sahara-Afrika en Suidoos-Asië, moet subsidieer.
Dr Mwanawina redeneer dat daar regverdigheid in hierdie reëling is, aangesien ontwikkelende lande nie ’n geskiedenis het van groot vrystellings van kweekhuisgasse nie, en dus nie beduidend tot die oorsake van klimaatsverandering bygedra het nie. Data wat aandui watter lande die meeste kweekhuisgasvrystellings het, bestaan reeds. Volgens die World Resources Institute is China voor in die ry wat dit betref, gevolg deur die VSA, die EU, Indië, Rusland, Indonesië, Brasilië, Japan, Kanada en Mexiko.
“Die taal en benadering van die Paryse Ooreenkoms is baie apologeties in die identifisering van lande wat al eeue lank hoë kweekhuisgasvrystellings het, en dit is nodig om sulke lande te oortuig om aanspreeklikheid te aanvaar – nie net op morele gebied nie – maar ook op finansiële gebied. As daar ooit nog ’n reeks konferensies gaan wees om vas te stel hoe ons ons planeet Aarde kan red, moet leiers nie daarvan wegskram om ’n bindende en afdwingbare ooreenkoms op te stel wat werklike omgewingskade, verlies en aanspreeklikheid in ag neem nie.
* Hierdie artikel is verder verfyn en deur die The Conversation: Africa Edition gepubliseer: http://theconversation.com/why-calling-for-a-new-climate-deal-isnt-such-a-bad-idea-79220
Dr Ilyayambwa Mwanawina.