NWU klim tot by die top-4,4% van universiteite wêreldwyd

Die voortgesette styging van die Noordwes-Universiteit (NWU) op wêreldwye ranglyste het hulle tot in die top-4,4% van universiteite wêreldwyd geneem. Dit is volgens die 2023-uitgawe van die Global 2000-ranglys wat deur die Center for World University Rankings (CWUR) gepubliseer is. Dit is ’n verbetering van die top-4,5% vir 2022/2023 en die top 4,7% in die 2021/2022-uitgawe van die ranglys waar hulle was.

Hierdie indrukwekkende prestasie is op 15 Mei op die cwur.org-webwerf gepubliseer. Die NWU is volgens die akademiese prestasie van 20 531 universiteite wêreldwyd geplaas.

Die universiteit het ook op verlede jaar se oorkoepelende telling van 71,0 tot 71,1 verbeter en word 887ste in die wêreld geplaas. Dit is in die tiende plek in Afrika en is steeds sewende (dieselfde as verlede jaar) in Suid-Afrika. Die NWU is in die 847ste plek vir navorsing en 1 685ste vir indiensneembaarheid.

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van de NWU, sê die universiteit is trots op sy prestasie op die wêreldverhoog. “Ranglyste erken die noodsaaklike werk wat die universiteit doen. Hulle stel die universiteit in staat om vennootskappe te vorm en plaaslike en internasionale samewerking te verkry.”

Hy sê uitnemendheid kan nie verkry word sonder dat die personeel, studente en ander rolspelers die NWU se vaandel dra nie. “Ek is trots op elkeen se bydrae om die NWU vorentoe te neem om nog hoër hoogtes te bereik.”

Volgens dr Nadim Mahassen, president van die CWUR, publiseer hulle die grootste akademiese ranglys van wêreldwye universiteite. Die ranglys is anders as die ander deurdat hulle objektiewe aanwysers vir hulle vier pilare – opvoeding; indiensneembaarheid; fakulteit; en navorsing – gebruik. Hulle maak nie op opnames en datavoorleggings van universiteite staat nie.

Die CWUR plaas ook gelyke klem op studente- en fakulteitsverwante aanwysers en het vir hierdie jaar se ranglys 62 miljoen uitkomsgebaseerde datapunte gebruik.

Die CWUR is ’n leidende konsultasie-organisasie wat beleidsadvies, strategiese insigte en konsultasiedienste aan regerings en universiteite verskaf om opvoedkundige en navorsingsuitkomste te verbeter.

Klik hier vir meer inligting oor die 2023 CWUR-ranglys (http://cwur.org/2023.php) of besoek Rankings | NWU | North-West University vir meer inligting oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste.

Submitted on Tue, 05/16/2023 - 10:30