NWU ken Kanseliersmedalje aan Danie Hefer toe

“Oom Danie!” klink die stem van die jong vrou van oorkant die straat op. Vir ’n oomblik kom alles in die eklektiese Stellenbosch, waar hy rondstap, tot stilstand en Danie Hefer draai om. Hy het nog ’n paar oomblikke tevore rondgekyk op soek na ’n restaurant, onbewus daarvan dat sy rankerige gestalte die aandag getrek het van die vrou wat nou na hom toe hardloop. Sy gooi haar arms om hom en gee hom ’n drukkie. Nadat sy hom weer laat los het, bedank sy hom vir die rol wat hy gespeel het om haar te help om haar graad te kry. Dié student, wat op ’n tyd groot finansiële probleme gehad het, beklee nou ’n hoëprofielpos in die finansiële sektor.  

Verhale soos dié oor Daniël Jacobus Hefer is volop, en op Vrydag 24 Junie het hierdie bestuurder van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sentrale Beurskantoor die NWU se Kanseliersmedalje ontvang ter erkenning van die besondere bydrae wat hy oor die afgelope 16 jaar aan die NWU en sy studente gelewer het met die manier waarop hy NSFAS-beurse en ander vorme van finansiële ondersteuning aan studente geadministreer het. Hy is voorts geloof vir sy toewyding omdat hy altyd die ekstra myl loop om befondsingsgeleenthede te soek deur met moontlike eksterne borge te skakel, asook vir sy passie vir studente. Hy het dit gedemonstreer deur altyd alle versoeke te oorweeg. Laastens vereer die kanseliersmedalje die erkenning wat hy in nasionale strukture geniet, soos op die komitee van die finansiële bystandspraktisyns van Suid-Afrika (Financial Aid Practitioners of South Africa).   

“Dit is ’n groot eer en ek aanvaar dit met groot nederigheid. Ek beskou dit as ’n erkenning van die harde werk wat ons as ’n span by Finansiële Steundienste regoor die universiteit se drie kampusse doen. ’n Mens is net so goed as die span waarin jy funksioneer. Dit is ’n ongelooflike voorreg,” sê Danie.

Danie en sy span is bekend vir die onvermoeide ure wat hulle in hulle werk insit, asook vir ’n oopdeurbeleid wat hulle werklik baie besig hou.  

“Ek doen wat ek voel enige NWU-personeellid bereidwillig behoort te wees om te doen, en dit is om altyd te probeer om ons beste te lewer. Ek kom al lank met studente saam. Ek kon nie voltyds studeer nie, aangesien daar bloot nie geld daarvoor was nie, dus verstaan ek hulle probleme. Ek geniet dit ook om met jongmense te werk. Ek sien so baie potensiaal. Hierdie land het ’n blink toekoms.”

Danie is in 1961 in die klein Karoodorpie De Aar gebore. Hy het in Pretoria grootgeword, waar hy in 1978 aan die Hoërskool Langenhoven gematrikuleer het. Hy is in 1979 vir twee jaar militêre diens opgeroep en het in 1981 by die destydse Volkskas Bank begin werk. In 1982 het hy ’n Diploma in Bemarking en Verkoopsbestuur by die Pretoria Technikon voltooi, gevolg deur ’n Diploma in Bankwese by die Instituut van Bankiers, ’n Gevorderde Diploma in Bankwese en ’n Gevorderde Diploma in Bestuur. Hy het in 2010 sy MBA aan die NWU verwerf.

Hy is in 2005 as die bestuurder van Finansiële Steundienste by die NWU se Potchefstroomkampus aangestel, en in 2018 as die bestuurder van die Sentrale Beurskantoor van die NWU. Daar het hy die verantwoordelikheid vir die administrasie van beurse van al drie kampusse aanvaar. Die Sentrale Beurskantoor was net in 2021 vir die administrasie van R2,7 miljard in beursbefondsing namens die NWU verantwoordelik.

“My beroep gee vir my soveel bevrediging. Ek dink nie daar was al een dag wat ek nie lus gehad het om werk toe te gaan nie. Ek was onlangs in die Nasionale Krugerwildtuin met vakansie, en soos my vrou kan getuig, het my skootrekenaar saamgegaan. Dit is ook ’n groot verantwoordelikheid as jy studente se toekoms in jou hande hou. Ek sê altyd vir studente dat ek vir hulle die deur kan oopmaak, maar dat hulle die res moet doen. Hulle moet die geleentheid met albei hande aangryp en die harde werk insit om te gradueer.”

Danie gaan oor vyf jaar aftree, en sy hoop vir sy nalatenskap is so pragmaties soos hyself.

“Ek wil onthou word vir die doeltreffende funksionering van die Sentrale Beurskantoor en ek wil die persoon wat by my oorneem, help en vir hulle ’n mentor wees. Ek wil hê dat dit ’n gladde oorgang moet wees, aangesien die belangrikste ding altyd die studente en die NWU is.”

Danie Hefer

Danie Hefer.

Submitted on Fri, 06/24/2022 - 11:52