NWU ken eredoktorsgraad aan dr Geraldine Fraser-Moleketi toe

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het dr Geraldine Fraser-Moleketi op 19 November 2021 met ’n eredoktorsgraad vereer vir haar buitengewone bydraes tot die Suid-Afrikaanse politieke landskap en samelewing.

Dr Fraser-Moleketi het vanaf 1999 tot 2008 as Minister van Staatsdiens en Administrasie gedien. Sy was tot 2007 ook ’n lid van die nasionale uitvoerende komitee van die African National Congress (ANC).

Dr Fraser-Moleketi het as sterk voorstander van maatskaplike en ekonomiese transformasie in Suid-Afrika en Afrika as plaasvervanger-afgevaardigde vir Joe Slovo gedien op die bestuurskomitee van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) – die veelpartyforum wat deur sy wilsverklaring Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie tot stand laat kom het.  

Sy het amper 14 jaar lank as parlementslid, as ’n lid van die Grondwetlike Vergadering, en in die Kabinet van opeenvolgende regerings gedien, en die ontwikkeling en implementering van transformasiebeleide oor maatskaplike welsyn en bevolkingsontwikkeling, asook staatsdiens en administrasie beïnvloed.  

In haar strewe om deurlopend openbare bydraes te lewer oor kwessies soos die bemagtiging van die jeug en vroue, saam met kapasiteitsontwikkeling in die onderwys, regering en die uitwissing van armoede, was sy by verskeie inisiatiewe en strukture van die Afrika Ontwikkelingsbank en liggame van die Verenigde Nasies betrokke. Dit sluit die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram (UNDP) en die Komitee van Kundiges oor Staatsadministrasie (CEPA) in.

Dr Fraser-Moleketi is ’n voormalige direkteur van wêreldwye demokratiese bestuurspraktyk (Global Democratic Governance Practice) van die UNDP en het as lid van die vierjaarlikse omvattende beleidsoorsig van die Verenigde Nasies se ontwikkelingstelsel gedien.

Sy dien as voorsitter van die CEPA, ’n filiaalliggaam van die ekonomiese en maatskaplike raad van die Verenigde Nasies (ECOSOC). Die CEPA bestaan uit 24 kundiges van verskillende lande regoor die verskillende streke van die Verenigde Nasies wat deur die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies aangestel is.

Dr Fraser-Moleketi is die kanselier van die Nelson Mandela Universiteit, die uitgaande voorsitter van die adviesraad van die Mapungubwe-instituut vir strategiese nadenke (MISTRA), en die inkomende voorsitter van die Thabo Mbeki Stigting. Sy is ’n genoot van die Institute of Politics en die Kennedy School of Government by die Harvard Universiteit.  

Haar kwalifikasies sluit ’n meestersgraad in Administrasie van die Universiteit van Pretoria, en ’n kwalifikasie in leierskap vir organisatoriese verandering (Leading Organisational Change) van die Wharton-besigheidskool by die Universiteit van Pennsilvanië in. Daarbenewens het sy ’n digitalebekwaamheid-raadslidsertifikaat by MIT Sloane Executive Education verwerf. Sy het ook ’n DPhil Honoris Causa van die Nelson Mandela Universiteit ontvang.

Tydens haar politieke loopbaan het sy met die voorbereiding vir die 1994-verkiesing as die nasionale adjunkverkiesingskoördineerder van die ANC gedien. Sy het vroeër in die leierskap van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) as lid van die sentrale komitee en politburo gedien, insluitende as die ondervoorsitter van die SAKP. In haar jeugjare het sy verskillende leierskapsrolle in die gemeenskap en studentepolitiek vervul. Dr Fraser-Moleketi was voorts ’n lid van die ANC en Umkhonto we Sizwe terwyl die organisasie nog verban was.

Voordat sy as Minister van Staatsdiens en Administrasie aangestel is, was sy die eers die Adjunkminister en toe die Minister van Welsyn en Bevolkingsontwikkeling.  Sy was verantwoordelik vir die uitbreiding van die maatskaplike veiligheidsnet en veral die instelling van die kindertoelae. Sy was aan die hoof van ’n interministeriële komitee vir kwesbare kinders en jongmense, en het rigtinggewende programme in die stryd teen armoede ontwikkel.  

As Minister van Staatsdiens en Administrasie was haar vlagskipinisiatief die regering se mediese fonds vir werknemers (GEMS), wat in 2005 geregistreer is om in die gesondheidsorgbehoeftes van staatsamptenare te voorsien. Haar ander inisiatiewe sluit die instelling in van ’n seniorbestuursdiens vir die ontwikkeling van seniorbestuurslede, die inisiëring van die beroepspesifieke bedeling (OSD), wat erkenning wil gee aan professionele persone in die staatsdiens – insluitende onderwysers en gesondheidswerkers – en hulle wil beloon, en die konseptualisering van die gemeenskapsontwikkelingswerkersprogram (Community Development Workers programme) as poging om die gaping tussen die regering en benadeelde gemeenskappe te oorbrug.

Sy het ook ’n buitengewone openbare bydrae vir die verbetering van samelewings buite die land se grense gemaak. Dr Fraser-Moleketi was ’n voormalige spesiale gesant oor gender van die Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB), op die vlak van visepresident, en was betrokke by die finalisering van die genderstrategie in die AfDB in ’n poging om die gehalte van Afrika se inklusiewegroei-agenda te verbeter.

Sy het verskeie vlagskipinisiatiewe bekendgestel, insluitende die konseptualisering en totstandkoming van die Affirmative Finance Action for Women in Africa-fonds in Mei 2016. Toe dit ’n paar jaar later beëindig is, het dit op US$300 m gestaan.

Dr Fraser-Moleketi dien op rade regoor die akademie, dinkskrums, die Verenigde Nasies en genoteerde/prima maatskappye.

....

Dr Geraldine Fraser-Moleketi ontvang ’n eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit. Sy is deur die NWU se Fakulteit Geesteswetenskappe vir ’n eredoktorsgraad benoem. Prof Michael Temane, adjunkregistrateur hang die band om.

 

Submitted on Fri, 11/19/2021 - 13:05